Skip to content
Menu

Handelinge 16:9-15
Filippense 1:1-11
NGB Artikel 31

‘Ek bid juis dat julle liefde al hoe meer sal toeneem in kennis en insig om die dinge wat saak maak te kan onderskei.’

DANKBAAR GEMEENTE VAN JESUS CHRISTUS

Paulus skryf die brief aan die Filippense vanuit gevangenis. Op die oomblik wat hy hier skryf, is hy nie ‘n vry man nie. Hy skryf die brief onder huisarres in Rome. Maar ondanks sy arres gaan Paulus, as dienaar van Jesus Christus, verder met sy bedieningswerk. Al is dit ‘n moeilike tyd. Al sit hy vas in boeie, stop dit hom nie. Hy bly die almag van die Here raaksien. Hy is verheug oor dit wat hy hoor van die gemeente in Filippi. Hy dank en bid. Hy is bly oor hulle gemeenskap aan Christus. ‘n Gemeente van Jesus Christus sal blydskap ervaar, selfs in die swaarste en moeilikste tye. Hy moedig hulle aan om in liefde te volhard.

Die begin van die goeie werke (1-5)

In Filippi het die Here met sy werke begin. Hy het van sy dienaars na dié stad toe gestuur. Daar het mense tot geloof gekom. Lydia die purperverkoopster en haar gesin asook die tronkbewaarder met sy gesin is gedoop in die Naam van Jesus Christus. In Filippi het ‘n gemeente tot stand gekom. Daar word bely dat Jesus Christus die Verlosser is.

Die Bewerker van die goeie werke (6-8)

Daar is net een wat die goeie werke kan Bewerk. Dit is Jesus Christus. Hy as Hoof van sy gemeente is hier kragtig aan die werk. Deur sy werke is hierdie mense in staat om in dankbaarheid te werk. Sy gemeente werk hier volgens sy wil. Hulle erken Hom as die hoof. Die kerkraad is op sy plek en heers nie oor Christus se gemeente nie, maar hulle doen diensbaar hulle werk as sy ampsdraers.

Die doel van die goeie werke (9-11)

Wat is die doel van ons goeie werke? Ons doen dit uit dankbaarheid. Om die Here te prys vir al die gawes wat Hy vir ons gee. Die doel is dat ons hier leef tot sy eer en heerlikheid. Hier mag ons vrug dra elke dag tot die dag wat Hy terugkom. Dit het die Filippense gedoen, dit doen ons vandag. Paulus moedig hulle en ons aan om hierin te volhard – en ook om dit nog meer te doen. ‘Ek bid juis dat julle liefde al hoe meer sal toeneem in kennis en insig…’

Ds. Gerben Meijer
meijer.gp@gmail.com