Skip to content
Menu

Hart-likheid in my verhouding met HERE

My getrouheid aan die HERE moet sy hart-likheid teenoor my spieël.

Moses is getrou.  Hy is oppad om in opdrag van die Here die volk te gaan uitlei.  Terwyl hy getrou doen wat die Here beveel het, dreig die Here om hom dood te maak. Moses is wel “getrou”, maar juis sy getrouheid openbaar sy hart-loosheid teenoor die Here.  Moses en sy vrou het nie hulle kind besny nie. Hulle was nalatig met die verbondsteken – die teken wat spreek van die HERE se ontferming en liefde. Hulle het die teken wat die HERE se hart-likheid sigbaar maak, nagelaat en so openbaar dat daar by hulle hart-likheid teenoor die HERE ontbreek. Die leegheid van hierdie soort “getrouheid” word duidelik wanneer die Here dreig om vir Moses dood te maak.

In my getrouheid aan die Here:

  • moet ʼn persoonlike antwoord voorop staan.

Die Here se persoonlike bemoeienis met Moses, gee aan ons duidelikheid waarom die Here vir Moses wou doodmaak. In Eksodus 1-4 staan die Here se persoonlike bemoeienis met Moses op die voorgrond. Hierdie bemoeienis word ook skerp beklemtoon in die roeping van Moses om die volk te gaan uitlei. Wanneer Moses met sy gesin na Egipte gaan, is hy wel gehoorsaam. Die nalaat van die besnydenis openbaar egter dat ʼn persoonlike antwoord op die Here se persoonlike bemoeienis, ontbreek. In my getrouheid aan die Here, moet juis ʼn persoonlike antwoord op sy persoonlike bemoeienis op die voorgrond staan.

  • weet ek dat ʼn werkgewer/werknemer verhouding my nie toerus vir my taak nie.

Moses gaan geweldige teëstand van die Farao in Egipte ervaar.  Deur sy verhouding met die Here te vervlak tot ʼn werknemer/werkgewer verhouding, stel Moses homself weerloos in die druk wat hy in Egipte sal ervaar. Alleen onder die besef van die Here se liefdevolle, persoonlike en kragtige omgee, sou hy kon volhou om gehoorsaam te wees. As kind van die Here moet ek begryp dat ʼn werkgewer/werknemer verhouding met die Here my nie toerus om die Here getrou te dien nie.

  • begin ek by my eie huis

In Sippora se optrede kom enkele belangrike sake na vore. Dit is duidelik dat sy, hoewel sy uit ʼn heidense agtergrond kom, geweet het van die belangrikheid van die besnydenis.  Sy weet immers dadelik waarom die dreiging gaan.  Uit die wyse waarop sy die besnydenis uitvoer en wat sy sê, is dit egter duidelik dat sy die bekenis van die doop nie begryp het nie. Heel moontlik was sy met haar heidense oortuigings ʼn struikelblok vir Moses in sy verantwoordelikheid om sy kind te besny. Moses wil die Here se opdrag gaan uitvoer, maar sy eie huis is nog nie in orde nie. In my getrouheid moet ek by my eie huis begin.

  • besef ek die belangrikheid van my voorbeeld

Moses sou met sy kind wat nie besny was nie, wel die volk kon uitlei. Hy sou hulle egter nie tot die Here kon lei nie. Sy eie kind wat nie besny is nie, weerspreek dan juis ʼn verhouding van liefde met die Here! In my getrouheid aan die Here is dit juis die innigheid in my verhouding met Hom wat vir ander tot voorbeeld moet dien.