Gebruik ‘n Kers(Christus)lied as jou antwoord in hierdie wêreld.
‘n Kerslied met ses reëls as jou antwoord:
As ons aan Kersliedere in die Bybel dink, dink ons meestal aan die woorde van die engele by skaapwagters (Luk. 2:14). Daar is egter in die Bybel ‘n ander Kers(Christus)lied wat ons nie so goed ken nie. ‘n Lied wat die gelowiges in Efese volgens 1 Timoteus 3:15 as antwoord moes bied in die wêreld waarin hulle geleef het. Teenoor die selfgenoegsame mense van Efese met hulle grootse Artemis (vgl. Hand. 19:24), kon die gelowiges in Efese ‘n “onteenseglike groot” waarheid stel (vgl. 1 Tim. 3:16a) – ‘n waarheid saamgevat in ‘n lied met ses reëls. Wie hierdie lied met woord en daad sing, bied aan ‘n raad-lose wêreld ‘n ware antwoord.
Hierdie Kerslied handel oor God se antwoord (vgl. reël 1 en 2):
Die lied wat Paulus in Efese wil laat sing, begin met ‘n daad van God wat vir die mens se verstand onbegryplik is: God se Seun word mens (vgl. reël 1). Hy verbind Hom aan mense en lig hulle uit die moeras van die ewige verderf. Hy word die Hoof van God se nuwe mense.
Reg van die geboorte van hierdie Kind af word sy relevansie bevraagteken. God gaan egter nog verder in die antwoord wat Hy gee. God die Heilige Gees bevestig dat die reg aan Christus se kant is (vgl. reël 2). Deur die Gees is Hy verwek, met die Gees word Hy sigbaar gedoop, deur die Gees verbreek Hy sigbaar in die wonders die mag van die Satan en deur die Gees staan Hy uit die dood uit op! As jy hierdie Kerslied in ons wêreld van vandag sing, bied jy nie ‘n leë slagspreuk soos die mense in Efese met hulle geskreeu: “Groot is Artemis” nie (vgl. Hand. 19:34). Jy gee die antwoord wat God gegee en bevestig het – ‘n antwoord wat werklik saak maak.
Dit is ‘n lied wat die mens voor ‘n keuse stel (vgl. reël 3 en 4):
Vir die éngele was dit ‘n vreugde toe God se raadsplan bekend word (vgl. reël 3). Hulle kon met oortuiging die Kerslied van 1 Timoteus 3 sing. Die méns word egter voor ‘n keuse gestel wanneer hy hierdie lied hoor (vgl. reël 4). Wanneer jy as gelowige Christus gehoorsaam en wanneer jy Hom verkondig, sing jy hierdie lied in die wêreld. God stel dan elke mens wat die lied uit jou mond en uit jou lewe hoor voor ‘n keuse. Kersfees roep ons op om getrou hierdie lied te sing!
Die Kerslied is ‘n oorwinningslied (vgl. reël 5 en 6):
Wie die Kerslied van 1 Timoteus sing, sing ‘n oorwinningslied. Die Kind van Betlehem is ook die Oorwinnaar wat opvaar en met heerlikheid beklee word (reël 6). Maar sy oorwinning is nie net in die hemel sigbaar nie. Dwarsdeur die wêreld is daar mense wat in Hom glo en in Hom oorwinnaars is (vgl. reël 5). In Efese is hierdie lied met ‘n besoek van Paulus gesmoor toe die mense vir twee ure lank geskreeu het: “Groot is Artemis”. So sal hierdie Kerslied ook vandag nog dood geskreeu word. Moenie toelaat dat dit jou sagter laat sing nie of ophou sing nie. Dwarsdeur die wêreld glo mense in Christus en so sal dit wees tot op die jongste dag.