Genesis 37
Hy het vir hulle gesê: “Luister asseblief na hierdie droom wat ek gehad het!”
Elke knie sal voor Hom buig
Josef is in ‘n voorkeur posisie in die huishouding van Jakob. Josef se broers het dit nie waardeer nie. Hulle was jaloers omdat Jakob liewer vir Josef was as vir hulle. Jaloesie is nie onbekend nie. Elkeen van ons sal iets hieroor kan vertel. Meestal word die woord onregverdig ook in hierdie konteks genoem. Hoekom die een en nie die ander nie? Josef is die geliefde kind. Aangrypend dat hy dit ook in die oë van God is. Nie net Jakob kies vir Josef nie. God kies ook vir Josef. In die heilsgeskiedenis neem Josef ‘n spesiale posisie in. In soveel opsigte wys hy na Jesus Christus. In besonder die drome wat hy ontvang.
Josef ‘n besondere kind van God
Josef was ‘n besondere kind. Al van sy geboorte af was dit duidelik. Al was hy een van die jongste kinders van Jakob, was hy, as die oudste seun van Ragel, die stamhouer (1 Kronieke 5:1,2). Al vroeg in sy lewe het hy ‘n mantel gekry wat hiervan getuig. Die jas met die pragtige kleure. Ondanks sy belangrike posisie, help Josef sy broers met hulle werk. Hierdie Josef ontvang drome van God. Josef besef dat God aan die woord is. God se woord, sy openbaring kan jy nie vir jouself hou nie. Josef is ‘n seun met ‘n duidelike bestemming, ‘n groeiende besef van wie God is en ‘n mooi karakter.
Dit kan egter nie van sy broers gesê word nie. Ruben het saam die byvrou van sy pa, Bilha, geslaap. Simeon en Levi het ‘n hele stad uitgemoor. Oor Juda volg daar ‘n verhaal oor ‘n hoer en poging tot moord. Ernstige misdade. Moes Josef daaroor swyg? Hy kan nie die onreg verdra en deur sy stilswye daaraan meewerk nie. Om die redes kan die broers van Josef hom nie verdra nie. Die duisternis verdra nie die lig nie. Josef het die openbaring van God deurgegee en word daarvoor verstoot.
Josef wys na Jesus Christus toe
Hierin wys hy na ons Here Jesus Christus. As die hoofstuk in die lig van die lewe van Jesus gelees word, is die ooreenkomste treffend. Jesus wat die waarheid verkondig, wat in toenemende mate gehaat word. Deur sy broers is Hy verag, verkoop, uitgeklee en uitgespoeg. Jesus die Man voor wie elke knie eendag sal buig. Hy die Verlosser van God se volk. As uitverkore k(K)ind van God is Josef en Jesus deur die mense verstoot.
Uitverkore – uitgewerp
Hierin praat die Here met ons vandag. Jy moet besef jy is ‘n uitverkore kind van God op die aarde tussen die mense. ‘n Ligdraer in die duisternis. Dit roep probleme op. Dit beteken dat jy deur mense verag en gehaat sal word, maar vol van die Woord en Gees van die Here mag jy met woord en daad getuig. As jy nie die lig versprei nie, hoe sal ‘n ander dit dan kan ontdek?
Ds. Gerben Meijer
meijer.gp@gmail.com