Psalm 96
Romeine 11:33-36
HK Sondag 52 v&a 128
‘Want aan U behoort die koninkryk en die krag en die heerlikheid tot in ewigheid.’
SOLI DEO GLORIA – AAN GOD ALLEEN ALLE EER!
Soli Deo Gloria sluit aan by die kern van Gereformeerd wees. Dit is hoe ’n christen lewe. Nie vir Homself nie, maar vir die Almagtige God. Met alles wat jy het. Met jou verstand, met jou hart en jou siel. Daarmee eer jy God. In Psalm 96 het ons medegelowiges dit regdeur die eeue gesing. Ons Here Jesus leer ons ook om so ons gebede af te sluit. Want aan U behoort die Koninkryk en die krag en die heerlikheid tot in ewigheid. Alle eer aan God!
Uit Hom is alle dinge
Aan God alleen alle eer. Hoekom? Want uit Hom is alle dinge. Alles op hierdie aarde behoort aan die Here. Uit die Vader kom alles. In die begin het die Here die hemel en die aarde geskep. Uit niks het Hy dit gemaak. Die wêreld is syne. Die diere wat hierop leef het Hy gemaak. Soort volgens soort. Ook vir jou as mens het Hy kunstig geweef. ‘Want U het my niere gevorm, my in my moeder se skoot geweef.’ (Palm 139:13) Sonder God was ons nie hier nie. Uit Hom is alle dinge. Alle roem en eer behoort aan God. Daarom is dit is baie ver van ons vandaan om met enige goed van ons eie teenoor God te roem.
Deur Hom is alle dinge
Deur die sonde leef die mens nie meer tot eer van God nie. Deur die sonde eer die mens homself. Dit het ons gesien in die tyd van die Hervorming. Mense het gedink hulle kan ’n deel van hulle sonde betaal. Dit deur goeie werke te doen. Of om met geld daarvoor te betaal. Maar dan eer jy jouself. Vandag is dit in baie opsigte nog so. Deur Jesus Christus word dit herstel. Deur Hom leef ons nie meer tot eer van onsself nie, maar tot eer van God.
Tot Hom is alle dinge
Om elke dag aan God alle eer te gee word vir ons moontlik deur die Heilige Gees. Hy vernuwe ons harte. Hy werk bekering en geloof in ons harte sodat ons ’n lewe in diens van die Almagtige God kan leef. Dit is wat Soli Deo Gloria beteken. Daar waar jy is, elke oomblik van elke dag, daar eer jy God met alles wat in jou in is, want uit Hom, deur Hom en tot Hom is alle dinge.
Ds. Gerben Meijer
meijer.gp@gmail.com