Mattheus 5:17-48
HK Sondag 2
‘Amen, Ek sê vir julle: Totdat die hemel en die aarde tot niet gaan, sal daar beslis geen jota of tittel van die Wet tot niet gaan nie, totdat alles vervul is… Wees dus volmaak soos julle hemelse Vader volmaak is.’
IN DIE SPIEËL VAN DIE WET
Jy is verkeerd. Dit is nie ‘n lekker boodskap om te hoor nie. Van nature hou ons as mense nie daarvan nie. Ons hou nie van kritiese opmerkings nie en ons hou verseker nie daarvan om te verander nie. Die gevaar dreig ook in die kerk. Van nature wil ons as mense net hoor, waarmee ons saamstem. Maar dit is nie hoe God werk nie. God pas nie by die mens aan nie. Die mens moet by God aanpas. Daarvoor moet jy die hele Bybel hoor, en nie net die gedeeltes wat jou pas nie, want dan skep jy vir jou ‘n denkbeeldige God. In Sondag 2 van ons belydenis word hierdie saak aangespreek. Die vraag word gestel: Waaruit ken jy jou ellende? Daarvoor gee die Here vir ons ‘n spieël, sodat ons ons sondige natuur kan raaksien. Hierdie spieël is dit wet. Daardeur word ons sondige natuur oopgevlek. Word daar vir jou baie duidelik gesê: Jy is verkeerd, maak reg.
God as Wetgewer
God het die hemel en die aarde geskape. God is nie afhanklik van ons nie. Ons is afhanklik van Hom. In die skepping is daar wette wat geen mens kan ignoreer nie. Orals word die wette van die Skepper ontdek. Is ons aan die wette van die Skepper gebind? Die antwoord is ja. Agter die wet hoor ons die stem van die Here. Sodra daar nie vir Hom geluister word nie, is die gevolg ellende.
Christus as Wetgeleerde
Die wet as spieël toon vir ons die werklikheid aan. Dit kan nogal konfronterend wees. Die gelowige weet dat Christus langs hom staan. Dat ons deur Hom in die spieël skoon is. In die Kategismus word gevra – Wat eis die wet van God van ons? Die Here Jesus gee antwoord. Jy moet God bo alles liefhê en jou naaste soos jouself. In die bergrede laat Hy vir ons baie duidelik sien hoe dit werk.
Die Heilige Gees as Wetleraar
Kan jy dit alles ten volle nakom? Die antwoord is uiters ongewild. Nee, want ek is van nature geneig om God en my naaste te haat. Baie duidelik word dit hier bely. Ek is nie ‘n slagoffer van die sonde nie, ek is ‘n dader. Volgens my aard wil ek nie vir die Here luister nie. Die Heilige Gees bring ons tot op hierdie punt. Hy leer ons om weer na die wil van die Here te luister en om daarvolgens te leef.
Ds. Gerben Meijer
meijer.gp@gmail.com