Skip to content
Menu

Genesis 40
1 Petrus 2:18-25

‘Julle is immers hiertoe geroep, want Christus het ook ter wille van julle gely; Hy het vir julle ‘n voorbeeld nagelaat, sodat julle in sy voetspore kan volg.’

IN DIE VOETSTAPPE VAN JESUS CHRISTUS

Josef se pad saam met God

Josef word deur God beproef. Eers is hy deur sy broers verwerp. Verkoop en weggevoer na Egipte. Verag en vergeet. Sy vernedering gaan nog verder. Hy word vals beskuldig deur die vrou van Potifar. Dit veroorsaak dat hy onregverdig in die tronk beland. Ondanks dit alles vertrou Hy op God. Hy sien nogtans die genade van God raak. Josef stap die pad saam met God. Ook al lyk dit of die Here van hom vergeet het. Hy word nie verbitterd teen die Here nie. Selfs daar in die tronk getuig hy van God. Vir die bakker en skinker sê hy: Hoort verklarings nie by God nie? Vertel dit tog vir my!

God se pad saam met Josef

Dit is vir ons moeilik om te verstaan hoekom daar soveel hartseer en lyding in die wêreld moet wees. Hoekom jy soms so vasgedruk voel deur die omstandighede waarin jy is. Maar dan word die prentjie omgedraai. Want die vraag is nie of dit met my lewe goed gaan nie, of ek in hierdie lewe rus en bevrediging vind nie. Die Bybel leer dat daar ‘n totale ommeswaai nodig is om dinge weer vanuit God te sien. Dit gaan oor God se pad saam met ons. Dit gaan oor die reg wat God op ons het. Hierdie reg word nie in die wêreld erken nie. Juis hierom moet ons lydsaam wees.

Deur lyding gelouter

Lydsaamheid – Wat beteken dit? As vreemdeling priester van die Here word jy opgeroep om lydsaam te wees volgens die voorbeeld van Christus, sodat ons in sy voetspore kan volg. Dit beteken dat wanneer daar onreg teen jou gedoen word jy lydsaam moet wees. Dit hou in dat jy rustig bly, nie kwaad word en wraak soek nie. Terselfdertyd moet jy as christen onreg met reg beantwoord. In die wêreld is dit nie altyd maklik nie. Deur die genade van die Here kan ons na Christus toe kyk. Na Hom wat ter wille van ons gely het.

Ds. Gerben Meijer
meijer.gp@gmail.com