Skip to content
Menu

1 Johannes 1:5-7
Johannes 8:12-20

Toe het Jesus weer met hulle gepraat en gesê: “Ek is die lig vir die wêreld. Wie My volg, sal beslis nie in die duisternis leef nie, maar sal die lig van die lewe hê.”

DIE VERLIGTENDE TEENWOORDIGHEID VAN GOD

Die apostel Johannes is nou al ‘n ou man. Die kerke in sy tyd word deur wolwe aangeval. In Efese en die ander gemeentes in klein Asië is daar ‘n toestroming van valse predikers. Hulle verkondig vreemde en bedrieglike gedagtes. Een van hierdie stellings hoor ons in vers 6 – Hulle sê dat hulle aan God verbonde is, maar hulle leef tog in die duisternis. Nou skryf hy aan die gemeente om hulle teen hierdie dwalings te beskerm. Daarvoor moet hulle die waarheid hoor. Hulle en ons moet mooi luister en fyn onderskei tussen waarheid en dwaling. Hierdie onderskeid is essensieel vir die beskerming en geestelike groei van God se kerk. Ons moet leef in die verligtende teenwoordigheid van ons Here Jesus Christus.

God is Lig (vers 5)

‘Dit is die boodskap wat ons van Hom gehoor het, en wat ons aan julle bekend maak: God is lig, en daar is geen duisternis in Hom nie.’ Johannes begin met ‘n stelling waaroor die gemeente in sy geheel sou saamstem. God is lig en daar is geen duisternis in Hom nie. Maar wat beteken hierdie abstrakte beeld vir die gelowige kinders van die Here? God se lig en waarheid het ‘n daadwerklike invloed op die lewe van gelowiges.

Ons volg die Lig (vers 6)

‘As ons sê dat ons aan Hom verbonde is, en tog in die duisternis leef, lieg ons, en leef ons nie volgens die waarheid nie;’ Wie in die duisternis leef, leef nie in God nie. Dit is so eenvoudig soos dit. Die slagspreuk van die dwaalleraars was om onderskeid te maak tussen die geestelike en die liggaamlike. Die gevolg daarvan is dat jy met dit mond sê jy is ‘n kind van die Here, maar met jou liggaam staan jy in die diens van die sonde. As kind van die Here is dit onmoontlik. Ons volg die lig en daarom is daar vir ons ‘n groot kontras tussen lig en duisternis.

Ons is verbonde in die Lig (vers 7)

‘maar as ons in die lig leef, soos wat Hy in die lig is, is ons aan mekaar verbonde, en reinig die bloed van Jesus, sy Seun, ons van elke sonde.’ Dit is ‘n werklikheid. Ons kan in die lig leef. Ons kan in verbondenheid met God en met mekaar leef. Dit op basis van ons reiniging deur die bloed van Jesus Christus. Die lig van God herstel ons verhouding met Hom, maar ook met mekaar. Daarom word ons in die Lig aan Hom en aan mekaar verbind.

Gesprekspunte

  1. Wat beteken die woorde: ‘God is lig’ vir jou?
  2. Wat is die onderskeid tussen skuldvergewing en heiligmaking?
  3. Hoe sal jy jou lewe in die lig hiervan beskryf?

Ds. Gerben Meijer
meijer.gp@gmail.com