Skip to content
Menu

Romeine 3:21-31
HK Sondag 6

‘Almal het trouens gesondig, en die eer aan God ontbreek by hulle; en tog word hulle goedgunstig op grond van sy genade vrygespreek deur die bevryding in Christus Jesus.’

LEWE UIT GENADE

In die Kategismus word die christelike geloof stap vir stap opgebou. ‘n Kind van die Here is aan die woord. Hy stel vrae om meer te leer oor homself en oor sy Here. Deur die antwoorde word die geloof sterker, kry dit meer inhoud. Word die effek daarvan in die lewe steeds duideliker. Hoe kan ons weer in genade aangeneem word? Hierop fokus ons die aandag vanaand. Dit gaan oor die onmoontlike moontlikheid van God se genade. Genade is ‘n stralende kernwoord van die christelike geloof. Dit gee die lewe kleur en glans. Dit maak die mens vry en ryk. Dit gee die gemeenskap warmte en liefde.

Dit is om te lewe met leë hande

Kan jy jouself red?  ‘n Ware menslike vraag. Die meeste opvoeding en onderwys is hierop gerig. Selfstandigheid. Nie afhanklik wees nie. Jy moet op jou eie bene staan, jou eie probleme oplos. Kan ons onsself nie verlos nie? Red van die nood in die wêreld en van die las van ons gewete? Die antwoord is nee. Met leë hande staan jy voor die Here. Die rede: die mens het ‘n sondekloof tussen hom en God gemaak wat hy nie self kan oorbrug nie. Daar is ‘n skuld wat betaal moet word en hy kan dit nie betaal nie. As jou skuld elke dag net groter word, hoe kan jy dit aflos?

Dit is om te lewe met gevulde hande

Deur die genade van ons Here Jesus Christus word ons hande gevul. Daar word vir ons sondes betaal. Aan God se eis word daar voldoen. Maar om vir die sondes te betaal moet die offer gebring word deur ‘n Persoon wat ware en regverdige mens en ware God is. Dit is ons Here Jesus Christus. Hy het die beker van toorn nie laat verbygaan nie. Aan die eis van die Vader word daar voldoen. Daarom sit ons vandag hier met gevulde hande. Oorstroom met die genade van God leef ons vir Hom met diepe dankbaarheid.

Gesprekspunte

  1. Wat beteken dit vir jou om vanuit die genade van Jesus Christus te lewe?
  2. Hoekom moet Christus die toorn van God dra vir ons redding?

Ds. Gerben Meijer
meijer.gp@gmail.com