Skip to content
Menu

Die preekskets is nou meer permanent beskikbaar onder sketse.

1 Johannes 1:8-2:2

“As ons ons sondes bely – Hy is getrou en regverdig, en daarom sal Hy ons ons sondes vergeef en ons van alle kwaad reinig.”

In die lig hoort skuldbelydenis

Vanoggend hoor ons in die Here se woord heelwat oor sonde. Meestal nie ‘n gewilde onderwerp nie. Iets wat jy maklik wil vermy. En tog is dit nie moontlik nie. Dit is ‘n gegewe. Dit staar elkeen van ons in die gesig. Maar wat dink jy van die sonde? Dit is eintlik te algemeen gestel. Wat dink jy van jou sonde? Hoe gaan jy daarmee om? Watter rol speel dit in jou lewe? In die Bybel word hierdie saak ernstig aangespreek. Daar word nie draaie om heen geloop nie. Dit word nie saggies benoem nie. Die rede – Want sonder kennis van ons donker, skrikwekkende sonde, kan ons nie met God in ‘n verhouding leef nie. Sonder kennis is dit onmoontlik. Ons sondes moet bely word. Ons teks sê – ‘As ons ons sondes bely – Hy is getrou en regverdig, en daarom sal Hy ons ons sondes vergeef en ons van alle kwaad reinig.’

Die erkenning van ons skuld

Teenoor erkenning staan ontkenning. Hierdie ontkenning spreek Johannes drie keer aan. As jy jou sonde ontken dan lieg jy (vers 6). As jy jou sonde ontken mislei jy jouself (vers 8). As jy jou sonde ontken maak jy God tot leuenaar (vers 10). Mense wat hulle sondes ontken mislei hulleself. Hulle volg ‘n verkeerde gids. Wat beteken dit dat jy jou sondes bely? Om jou sondes te bely, beteken dat jy instem met God se oordeel daaroor. Dat jy ‘n groot afkeer daarvan het, soos God. ‘n Duidelike voorbeeld van so ‘n belydenis kry ons in Psalm 32:5 –  ‘My sonde het ek teenoor U erken; my sondeskuld het ek nie bedek nie. Ek het gedink, ek wil my oortredings teenoor die HERE bely, en U het my sondeskuld vergewe.’

Die versoening van ons skuld

Hoofstuk 2 begin met ‘n wending. My kinders, my verlange is dat julle nie moet sondig nie. (vers 1) Johannes hoop dat hulle hierdie woorde ter harte sal neem. Dat hulle die dwalings agter hulle sal los, en nie meer sal sondig nie. Dit beteken nie dat hulle nou sonder sonde sal leef nie, maar dat hulle met al hulle krag probeer om die sonde te vermy. Dit is moontlik in Christus. Hy is ons Pleitbesorger, ons Voorspraak en Parakleet. Deur Hom is daar versoening vir ons skuld. Wat gebeur as jy as gelowige weer sondig? Want dit sal altyd weer gebeur. Dan is die Here Jesus Christus, ons verdediger. In Hom staan ons versoening met God vas.

Gesprekspunte

  1. Waarom word Jesus Christus die Voorspraak of Parakleet genoem? Wat leer ons in hierdie benoeming oor Hom?
  2. Wat is die verskil tussen ‘n bekeerde en onbekeerde sondaar?

Ds. Gerben Meijer
meijer.gp@gmail.com