Skip to content
Menu

1 Johannes 2:18-27, 4:1-6

“Maar julle is deur die Heilige gesalf, en julle almal weet dit.”

Gesalfdes in die laaste uur

Ons leef in ‘n tyd wat alles vinnig verander. Ons kinders word in ‘n ander wêreld groot. Daagliks is daar verandering. Op verskeie fronte. Ekonomies, tegnologies, sosiaal. Wat doen ons as christene hieromtrent? Vandag word ons deur sake gekonfronteer wat ‘n paar jaar terug ondenkbaar was. In die gedeelte wat ons saamgelees het kry ons leiding. In die laaste uur kan jy ontdek en seker wees van wat reg is. As Gesalfdes van die Here, gee die apostel, praktiese wenke om gelowiges te help om te weet hoe om seker te wees van wat reg is as onsekerheid heers.

Die stryd met die antichris 

Johannes waarsku die gemeente teen die antichris. Die antichris is hulle wat teen Christus is. Mense wat vroeër deel van die gemeente was, maar nou teen Christus is. Die Here maak dit vir ons duidelik hoe ons die antichris kan herken. Christus kom in die Naam van die Vader. Die antichris kom in sy eie naam met sy eie wyshede. Christus het gekom om sy Vader se wil te doen. Die antichris kom om sy eie wil te doen.  Christus kom om te red, die antichris om te verwoes. Christus is die waarheid. Die antichris is die leuen. Die Antichris en die antichriste (valse leraars) is uiters wêrelds. Ons kan hulle herken  as ons weet hoe om hulle te identifiseer. Die Here lei ons hierin. Deur sy Woord sien ons die gees van dwaling wat in hulle heers.   

Die verblyding in Christus  

‘Maar wat julle betref: die salwing wat julle van Hom ontvang het, bly in julle, en daarom hoef niemand julle te leer nie. Maar omdat sy salwing julle alles leer, en omdat dit die waarheid is, en nie ‘n leuen nie, bly in Hom, net soos Hy julle geleer het.’ Johannes skryf die brief op sy oudag. Hierdie eenvoudige opdrag het hy goed verstaan. As daar verwarring is, hou vas aan Jesus Christus. Volhard in Hom. Dit is nie leë woorde nie. Die apostel praat vanuit ervaring. Hy het saam met Jesus geleef. Hy het Hom gehoor en nou gee hy hierdie woorde deur. Juis hierom is hierdie Woord vir ons opgeskryf. Selfs vandag, honderde jare later, kan ons elke keer hierop terugval. As daar verwarring is gaan ons terug na die waarheid. Terug na die gesagvolle Woord. Dit waardeur die Here oor die lewe van sy Gesalfdes regeer. Die salwing van Hom bly in ons, en met verblyding is ons in Hom.

Gesprekspunte

  1. Watter geeste bedoel Johannes moet ons op die proef stel?
  2. Wat behels dit om in die gees van die waarheid te leef?

Ds. Gerben Meijer
meijer.gp@gmail.com