Johannes 1:19-37,
HK Sondag 11
’Toe Jesus verbyloop, het hy stip na Jesus gekyk en gesê: “Kyk, die Lam van God!” Die twee dissipels het hom dit hoor sê, en hulle het Jesus gevolg.’
JESUS CHRISTUS IS DIE ANTWOORD
Hy is jou enige Redder
y noem Jesus jou Verlosser. Maar waarvan moet ek nou eintlik gered word? In gesprekke met iemand wat nie ‘n christen is nie, of nog nie ‘n christen is nie, kom heelwat onderwerpe aan die orde. Oor die bestaan van God. Die waarheid van die Bybel. Die lyding in die wêreld. Soms moeilike onderwerpe, ook vir ons as christene. Maar vinnig sal die Naam van Jesus Christus genoem word. Het jy al van Jesus Christus gehoor? Ken jy Hom? By Hom is daar redding. En dan kom die logiese vraag: Waarvan moet ek dan gered word? As jy op katkisasie mooi geluister het sal jy weet – van die duiwel natuurlik en van jou sondes. Maar dan kom die volgende vrae eintlik direk. Hoekom van die duiwel gered word? Behoort ek dan aan die duiwel? Hoekom van my sondes gered word? Dink jy ek is so ‘n groot sondaar? Dit is nie so eenvoudig nie…en dit bring jou weer by die vraag: moet ek gered word? Redding, verlossing. Dit laat jou dink aan ‘n noodsituasie. ‘n Reddingsoperasie word uitgevoer as daar ‘n groot probleem is en iemand se lewe in gevaar is. Nou waar is die nood? Vir die sonde is daar net een antwoord. Daar is net een wat ons uit die nood kan red. Dit het Johannes die doper besef. Ons hoor die in sy woorde. Kyk, die Lam van God wat die sonde van die wêreld wegneem! Jesus Christus is die enige Redder.
Hy is jou volkome Redder
Soms is dit moeilik om versoening met God aan die stryd wat jy elke dag voer te verbind. En tog is Jesus self daaroor duidelik. Sy redding begin by vergewing van sondes, maar dit is nie daartoe beperk nie. In die spoor van vergewing kom ook genesing en onderlinge versoening. Jesus is jou volkome Redder. Verlossing van die sonde is die uithaal van die angel. Daarmee verander alles. God se genade kom jou lewe binne. Jy kry krag en moed om vorentoe te gaan, al is dit donker. Jy leer om genadig met ander om te gaan. Jy het hoop in siekte. Jou lewe, jou siel en jou liggaam, jou hede en toekoms is in sy hande. Hy is jou volkome Redder.
Hy is jou persoonlike Redder
Petrus sê – Sy naam is die enige op aarde wat mense redding bied. Wat beteken dit nou vir jou persoonlik? Jy moet Hom aanroep, en vir ander van Hom vertel. Aanbid Hom en getuig van Hom. Sy naam is persoonlik aan jou verbind. Jy word geken as ‘n christen. As jy ‘n christen is, is jy ook ‘n getuie. Jou woorde en dade vertel ‘n verhaal. Dit getuig van die Here se werk in jou. ‘n Lewe wat geloof, hoop en liefde uitstraal.
Ds. Gerben Meijer
meijer.gp@gmail.com