Skip to content
Menu

Psalm 22:1-11, Mattheus 26:36-46; 27:45-50

‘Teen ongeveer die negende uur het Jesus met ‘n harde stem uitgeroep: “Eli, Eli, lemá sabagtáni?” Dit beteken ‘My God, my God, waarom het U My verlaat?’

Verlaat vir ons verlossing

Psalm 22 is die psalm van die kruis. Die diepte van die lyding word daarin duidelik besing. Dit wys na die swaarste ure van ons Here Jesus. In hierdie Psalm word gesing van die duisternis, sowel as die roem aan die kruis. Die lyding van Christus en die roem wat sal volg. Dawid plaas ons fokus hierop. Hy profeteer van dit wat jare later sal gebeur. En so het dit gebeur. Aan die kruis is Christus vasgespyker. Daar is Hy deur die Jode en omstanders gespot. Sy hande en voete is deurgrawe. Vervloek is Hy opgehang. Dan kom daar duisternis en sy lyding bereik ‘n dieptepunt. In sy uiterste nood roep Jesus uit: ‘My God, my God, waarom het U My verlaat?’

Die ergste vloek

‘Vanaf die sesde tot die negende uur het daar duisternis oor die hele aarde toegesak.’ In die middel van die dag, is dit middernag. Tussen 12:00 en 15:00 kom daar duisternis oor die hele land. Nou oorval hierdie duisternis vir Jesus. Aan die een kant beteken duisternis: vryspel vir die duiwel. Aan die ander kant is die verduistering ‘n regstreekse daad van God. Waarom neem God sy lig weg van die Seun van die mens? Die kruis sê: Jy is vervloek. God onttrek Hom van wie vervloek is. Die hel kry ruimte om Jesus te pynig. Erger, intenser en eensamer is dit vir Hom as ooit tevore. Die stryd bereik sy klimaks. Deur die werklikheid van die duisternis ervaar Jesus Christus die vloek, soos wat geen mens ooit vervloek gevoel het nie.

               
Die diepste punt

Teen ongeveer die negende uur het Jesus met ‘n harde stem uitgeroep: ‘My God, my God, waarom het U My verlaat?’ Dit is ‘n harde uitroep. Die Seun van God is volkome verlaat. Dit het nog met geen mens gebeur nie. Die Skrif word vervul. Jesus drink die beker van God se toorn. Hy tree vir ons in. Hy dra al ons ellende. In die duisternis roep Hy dit uit. Dan kom daar weer lig. Jesus dryf die duisternis weg.

Die grootste vrede

In die woorde van Jesus hoor ons ook ‘n verlange na vrede. Hierdeur bewerk Hy vir ons die grootste vrede. Hy is verlaat vir ons verlossing. Ons Nagmaalsformulier sê dit so mooi. Hy is deur God verlaat, sodat ons nooit deur God verlaat sal word. nie.

Gesprekspunte

  1. Al voel Dawid deur God verlate gaan hy steeds voort om God aan te roep (vers 3). Wat behels dit vir jou as dit voel of God stil is of ver weg is?
  2. Wat is die verskil tussen Dawid se ervaring waarvan hy in Psalm 22 sing en dit wat Jesus Christus aan die kruis gedoen het?

Ds. Gerben Meijer
meijer.gp@gmail.com