Die sigbaarheid met hemelvaart word opgevolg met verdere sigbaarheid.
Skriflesing: Lukas 24:36-53 Teks: vers 50
Met hemelvaart staan die sigbaarheid van die oorwinning op die voorgrond.
Met die hemelvaart tree Jesus op ʼn baie besondere manier op. Hy verskyn en verdwyn hierdie keer nie soos met die vorige verskynings ná die opstanding nie. Hy tree hierdie keer sigbaar op. Lukas sê dat Hy sy dissipels “uitgelei” het. Hy lei hulle uit Jerusalem tot by die suid-oostelike hange van die Olyfberg (by Betánië). Hier op die Olyfberg, waar die verskrikking wat vir Jesus voorgelê het, so sterk op die voorgrond gestaan het, waar Hy sy dissipels soveel geleer het, hier word die vrug van sy lyding en oorwinning nou sigbaar en duidelik aan die dissipels oorgedra. Sigbaar word hulle gelei tot op die Olyfberg, sigbaar hef die Oorwinnaar sy hande op en seën sy volgelinge. Sigbaar vaar Hy op – gaan Hy na die Vader om as Oorwinnaar gekroon te word.
Die Koning bewerk ook sigbare veranderings.
Die sigbaarheid van Jesus se oorwinning met hemelvaart word ook sigbaar in sy volgelinge. Die dissipels het voorheen, ondanks die Here se nabyheid, nie werklik tekens van oorwinning vertoon nie. Wanneer hulle van die Olyfberg vertrek, is die verandering by hierdie dissipels sigbaar.
- In die plek van hulle passiwiteit kom verwagting en gehoorsaamheid. Hulle gaan wag volgens die opdrag vir die uitstorting van die Gees (vgl. 24:49).
- Die selfgerigtheid wat die dissipels se lewe gekenmerk het (vgl. bv. Matt 18:1), word vervang met gerigtheid op die Here. Let op: Hulle is gevul met aanbidding, lof en dankbaarheid.
- In die verlede was Jesus se volgelinge verslae en hartseer oor die feit dat Jesus sou weggaan (vgl. bv. Joh. 14:1-3). Nou hoor ons dat hulle met groot blydskap teruggegaan het.
- Dit is duidelik dat die vrese en onsekerheid (vgl. bv. Joh 20:19) plek gemaak het vir geborgenheid van mense wat binne God se seën leef. Hulle wat van die Oorwinnaar die seën ontvang het, gaan nie om God êrens in die geheim te prys nie Hulle is na die tempel toe.
Liturgie vir Sondagaand
Votum
Seën
Sing: Ps. 68:12, 15 (lof)
Sing: Ps. 61:1, 2, 3 (verootmoediging)
Gebed
Lees: Lukas 24:36-53
Teks: Lukas 24:50
Woordverkondiging
Gebed
Sing: Ps. 118:7, 8
Seën