Handelinge 1:1-11, 6:8-15, 7:54-60
‘Maar julle sal krag ontvang wanneer die Heilige Gees oor julle kom, en julle moet my getuies wees in Jerusalem, in die hele Judea en Samaria, en tot aan die einde van die aarde.’
Die wonder van die Hemelvaart van Jesus Christus
In hierdie wêreld waarin ons leef is geloofsvervolging ‘n realiteit. Die wêreld is honger daarvoor. In Openbaring lees ons dit – ‘Ek het ook gesien dat die vrou dronk is van die bloed van die heiliges, en van die bloed van die getuies van Jesus.’ (Openbaring 17:6) Oor een van hierdie getuies het ons gelees in Handelinge. Die diaken Stefanus het getuig van Jesus Christus. Die mense daar was nie opgewasse teen die wysheid waarmee, en die Gees deur wie, hy gespreek het nie. (Hand 6:10). Die opdrag wat Jesus gegee het leef Stefanus uit. Met woord en daad is hy ‘n getuie. Die woord getuie het ‘n dubbele betekenis. Dit kan ook vertaal word met martelaar. Met sy woorde het hy getuig, maar ook met sy lewe. Dit deur die krag wat hulle van Jesus Christus ontvang. Deur die wonder wat met sy Hemelvaart gebeur het.
Jesus se werk op die aarde voltooi
Die Here Jesus se werk op die aarde is klaar. Hy het hier gedoen waarvoor Hy gekom het. Sy koninkryk is gevestig. Hy het die mens met God deur sy offerande versoen. Met sy eie bloed het Hy die sonde van die mens uitgedelg. Hy het die duiwel en die dood oorwin. Hy het ons in ware vryheid herstel. Hy het vir ons lewe verwerf. Hy het reg en geregtigheid gevestig. Hiervan mag ons nou getuig.
Sy werk in die hemel gaan voort
Nou het Hy opgevaar. In die hemel gaan Hy met sy werk aan. In die hemel is Hy profeet, priester en koning. As profeet gaan sy Woord oor die hele wêreld uit. Almal hoor daarvan. As priester tree Hy vir ons as voorspraak in by die Vader. Deur Jesus kan ons tot God bid. As koning heers Hy aan die regterhand van God. Hy is in beheer! Dit sien ons by Stefanus. Die Here is betrokke in die lewe van sy kinders. ‘Maar Stefanus, vol van die Heilige Gees, het stip na die hemel gekyk en die heerlikheid van God gesien, en Jesus wat aan die regterhand van God staan.’
Ons werk gaan voort op die aarde
Ons werk is hier op die aarde. Totdat Jesus terugkom soos Hy gegaan het, is elke gelowige ’n getuie van Hom. Ons word opgeroep om profeet, priester en koning te wees daar waar ons gaan. Deur die Heilige Gees ontvang ons krag en hierdie krag moet die wêreld in. Kragtig moet ons getuig met woord en met daad. Selfs as dit beteken dat ons martelaars vir ons geloof in Jesus Christus moet wees.
Gesprekspunte
- Wat doen Jesus nou in die hemel (vgl Open 1:5)? Wat bevestig dit vir ons vir die toekoms? (Vgl. Johannes 14:1-6)
Ds. Gerben Meijer
meijer.gp@gmail.com