Rigters 17
Efesiërs 3:14-21
HK Sondag 35
‘In daardie tyd was daar geen koning in Israel nie; elkeen het gedoen wat reg was in sy eie oë….Miga het gesê: Nou weet ek dat die Here vir my goed sal wees, omdat die Leviet vir my ‘n priester geword het.’
DIEN GOD OP SY MANIER, NIE OP JOU MANIER NIE
Die tweede gebod sê – ‘Jy mag vir jou geen gesnede beeld of enige gelykenis maak van wat bo in die hemel is, of van wat onder op die aarde is, of van wat in die waters onder die aarde is nie. Jy mag jou voor hulle nie neerbuig en hulle nie dien nie; want Ek, die Here jou God, is ’n jaloerse God wat die misdaad van die vaders besoek aan die kinders, aan die derde en aan die vierde geslag van die wat My haat; en ek bewys barmhartigheid aan duisende van die wat My liefhet en my gebooie onderhou.’ Hierdie gebod spreek direk ons godsdiens aan. Dit gaan hier oor hoe ons God aanbid. Dit is baie belangrik. Veral in die tyd waarin ons leef. Want net soos in die tyd van die Rigters, leef ons in ’n tyd wat elkeen doen wat goed is in sy eie oë.
Die behoefte na beelde
Die mens het ’n behoefte na godsdiens. Die mens is ’n religieuse wese. Elke mens op hierdie aarde besef daar is iets meer. Deur die eeue heen is dit al so. Vandag het daar in die opsig nog niks verander nie. Daarom is daar soveel gelowe. Almal soek na ’n manier om God te bereik. Jammer genoeg is die massas verdwaal. Soek hulle paaie, maar hulle vind nie die Weg, Jesus Christus nie.
Die gevaar van beelde
Hoekom verbied die Here dit so streng in sy 2e gebod. Waarom mag ons God nie afbeeld nie? Godebeelde word meestal gebruik, om die gode vir jou eie gewin in te skakel. Jy span die nodige god in by jou planne. Die god word diensbaar aan jou. Dit pas nie by die christelike geloof nie. Die Here, die Almagtige God, is geheel en al anders as dit. Vandag is dit aktueel. Die 2e gebod kom in aanmerking waar iemand ’n denkbeeld van God het en dit vereer as God self. Kenmerkend van ’n ingebeelde god is, dat hy oraloor dieselfde dink as die ontwerper self. Mense besluit hoe God dink oor sake. Mense besluit hoe God die rol tussen man en vrou gemaak het. ’n Menslike beeld van God word gemaak en dit word hanteer asof dit God self is. Bitter gevaarlik.
Die ware godsdiens
Die Here is ’n jaloerse God. Daarmee maak God iets van Homself aan ons bekend. Dit is vir Hom belangrik hoe ons Hom aanbid. Die verkeerde manier is vir Hom onaanvaarbaar.
Gesprekspunte
- Elkeen doen wat goed is in sy eie oë: Wat is die gevaar hiervan in jou geloofslewe?
- Deur wat word jou gedagtes bepaal oor hoe jy oor sekere sake dink en redeneer?
Ds. Gerben Meijer
meijer.gp@gmail.com