Romeine 12:9-21
HK Sondag 40
‘As dit moontlik is, sover dit van julle afhang, leef in vrede met alle mense.’
DIE LEWE IS ’N GESKENK VAN GOD
Jy mag nie doodslaan nie. Dit klink vir ons redelik eenvoudig. Agter die gebod kan ek ’n regmerkie sit. Ek het nog nooit iemand doodgeslaan nie. So eenvoudig is die nie. In hierdie gebod gaan dit oor veel meer. Die Here se gebod – Jy mag nie doodslaan nie. ’n Ander mens se lewe, dit moet jy uitlos. Oor die lewens van diere tree die Here al streng op. As die eiendomsreg van God so streng is oor die lewe van ’n dier, hoeveel temeer dan nie vir die van ’n mens nie? Elke mens. Christen of nie. Geniaal of dement. Gebore of nege maande voor geboorte. Elke mens het vir God ’n waarde wat baie meer is, as die waarde van diere. Daarom gee Hy vir ons hierdie gebod. Geen mens mag die lewe van ’n ander neem nie.
Wat die Here gebied
In die skeppingsverhaal word mens sowel as dier, lewende wesens genoem. Aan beide het die Here lewe gegee. Tog is die mens vir die Here baie belangriker as die dier. Die rede hiervoor is omdat ons na die beeld van God gemaak is. God sien in elke mens nogsteeds iemand, wat Hy na sy beeld geskape het. Dit is en bly ’n groot eer om mens te mag wees. Elke mens op die aarde. Ook hulle wat ons vyande is, wat ver van die Here leef. Daarom respekteer en eer ons lewe. In hierdie konteks sê Jesus vir ons, ons moet ons vyande liefhê – ‘Julle moet jul vyande liefhê; seën die wat vir julle vervloek, doen goed aan die wat vir julle haat, en bid vir die wat julle beledig en julle vervolg; sodat julle kinders kan word van julle Vader wat in die hemele is; want Hy laat sy son opgaan oor slegtes en goeies, en Hy laat reën op regverdiges en onregverdiges.’
Wat die Here verbied
Wat verbied die Here nou presies in hierdie gebod? In die sesde gebod sit die Here ons aan die werk, om die moordenaar in ons te bestry. Die moordenaar is in elkeen van ons. Daarvoor het jy nie ’n kriminele rekord nodig nie. Deur die sonde is die ou mens in ons van nature geneig om te haat. Om te moor. Dit gebeur op baie maniere. Deur kwetsende gedagtes en woorde. Maar ook op ander maniere. Die Here verbied in hierdie gebod ook aborsie en genadedood. Elke vorm van die neem van ’n lewe verbied die Here in sy wet.
Ds. Gerben Meijer
meijer.gp@gmail.com