Spreuke 14:10-14; 20:21-21:2
‘Die hart ken sy eie bitterheid, en in sy vreugde kan ‘n buitestander nie deel nie.’
Om te wag op die HERE (1)
In Spreuke 14:10 staan daar – ‘Die hart ken sy eie bitterheid, en in sy vreugde kan ‘n buitestander nie deel nie.’ Hoe moet ons hierdie Spreuk verstaan? Veral in die lig van Jesus Christus, wat juis eensaamheid, bitterheid en onbegrip wegvat. Die wysheid van hierdie Spreuk breek ons vanoggend oop. Hierin sit iets wat kragtig is op hierdie oomblik. Nou terwyl ons in ‘n erge vlaag van die pandemie sit, loop soveel van ons rond met harte vol van bekommernis. In die konteks word die Spreuk miskien verstaanbaar – ‘die hart ken sy eie bitterheid.’ Dit is so – ons ken mekaar net te dele. Ons is mense met soveel emosies. Ons beleef en ervaar gebeurtenisse so verskillend. As mense is ons veelkleurig. Dit is pragtig, maar dit kan ook nodige spanning en verwarring veroorsaak. Juis omdat ons mekaar nie altyd ten volle verstaan nie.
Nodige lewenswysheid
‘Die Here bepaal ‘n man se treë; en ‘n mens, hoe sal hy dan sy eie pad verstaan?’ Die boek Spreuke staan vol lewenswysheid. Meestal is dit kort uitsprake. Hierdie Spreuke is bedoel vir opvoeding. Hierin is heelwat gedagtes oor die wêreld en uitsprake oor die lewe. Die wysheid uit Spreuke is nie net gebore uit lewenservaring nie, maar ook uit Godsopenbaring. Hier gee die Here deur sy Gees vir jou leiding op jou lewenspad. Daarom is dit so belangrik dat die waarheid van hierdie Spreuke tot elkeen van ons deurdring.
Wat krag gee in hierdie lewe
Wat is nou die krag van so ‘n spreuk in die Bybel? Dit bring jou by erkenning, want dit is ‘n realiteit. Elke mens hou iets vir homself, wat nie moontlik is om met iemand anders te deel nie. Al sou jy dit selfs ten volle wou. Die nugterheid om dit te besef is belangrik. Dit kan baie frustrasies voorkom. Dit bepaal hoe jy met ander mense omgaan. Die erkenning hiervan gee juis ruimte daarvoor. Dit maak dat jy anders leef. Hierop plaas die Here ons aandag – ‘Die asem van die mens is die Here se lamp; daarmee deursoek Hy al die kamers van die binneste.’
Want dit bring jou by Christus
In Romeine 12:15 skryf Paulus – ‘Wees bly saam met diegene wat bly is; treur saam met diegene wat treur.’ Dit lyk of dit Spreuke 14:10 weerspreek. Kan iemand saam met my bly wees? As hy tog nie ten volle verstaan wat ek ervaar nie? Kan ek saam met iemand treur, as ek haar pyn nie kan peil nie? In Jesus Christus kan dit. In Hom begin die nuwe lewe. Dit bepaal hoe jy met jouself omgaan en ook met ander. Met die liefde van Christus soek jy na die ander se hart. Dan sal jy nie altyd kan verstaan nie, maar jy sal wel kan liefhê.
Ds. Gerben Meijer
meijer.gp@gmail.com