Skip to content
Menu

Psalm 119:1-16  
HK Sondag 44

‘Gelukkig is mense wie se lewenspad onberispelik is en wat die wet van die Here volg! Gelukkig is hulle wat hou by sy bepalings, wat Hom met hulle hele hart soek…’

DIE WET IN DIENS VAN DIE EVANGELIE

Wat is nou die doel van die wet? Hoekom gee die Here dit vir ons, as ons dit elke dag maar net oortree? Waarom hoor ons dit elke Sondag, terwyl nie een van ons dit kan onderhou nie? Sonder kennis van die wet, is daar nie ware kennis van vergewing nie. Daarom is dit so belangrik dat ons die wet van God hoor. Die wet van God ken en dan moet ons die prentjie omdraai. Dit gaan nie daaroor of die wet van God vir ons belangrik is nie. Dit gaan nie oor die mens nie. Die vraag is – Hoekom is die prediking van die wet so belangrik vir God? Watter plek gee God die wet in sy omgang met ons? Die Here se doel met die wet is positief. In Psalm 119 word daar duidelik van gesing. Die wet hou ons op die pad van saligheid. Die wet is evangelie.

Veg teen die sonde

Die tiende gebod sê jy mag nie begeer nie. Die begeerte is meestal die begin van sonde. Soos gesê word – Die begeerte baar sonde, die sonde vervolgens dood. Dit is hoe dit meestal werk. Jy kry ’n slegte verlange. Jy wil iets hê wat verbode is. Jy wil iets doen wat nie mag nie. Hierdie gedagte nestel in jou hart. Dit lê daar en broei. Hoe langer hy lê, hoe sterker en groter word hy. Die wet van die Here stel ons in staat om teen die sonde te veg. Daardeur ontmasker die Here die sondes in ons lewens. As ons nie weet wat reg en verkeerd is nie, sal dit ook nie vir ons moontlik wees om daarteen te stry nie. Al ons verkeerde begeertes word deur die Woord van die Here oopgevlek.

Groei in die geloof

Die Here het die mens gemaak met ’n wil. Deur die sonde is hierdie wil geneig net tot die kwaad. Maar deur die werke van Jesus Christus kan ons weer die goeie doen. Wil ons weer in diens van die Here staan. Deur die Gees is ons tot goed in staat. Ons begeerte moet wees om te groei in die geloof. Deur die wet toon die Here vir ons aan hoe.

Volhard in die gebed

Die Woord en die wet van die Here lei ons in die dankbaarheid. Daarin is die voornaamste deel die gebed. Die wet toon aan hoe ons in ’n regte verhouding met God kan leef. Hierin moet ons volhard. Dankbaar teenoor God, dat Hy uit liefde vir ons sy wet, sy evangelie gee. Dat ons hier op die aarde, biddend kan wandel in sy waarheid.

Ds. Gerben Meijer
meijer.gp@gmail.com

Ps 18-1:1,12; Ps 119-1:1,2; Ps 119-1:7; Sb 8-1:1,2.