Lukas 11:1-13
HK Sondag 45
‘As julle dan wat sleg is, weet om goeie gawes aan julle kinders te gee, hoeveel te meer sal die hemelse Vader die Heilige Gees gee aan die wat Hom bid?’
CHRISTUS LEER ONS HOE OM TE BID
Ons staan vandag stil by ’n baie aktuele tema – gebed. As gelowiges is dit gewoon om te bid. Daar word baie gebid. Dit is ’n wonderlike gebeurtenis. Dit is die belangrikste manier van dankbaarheid. Om ‘n innige, diep gesprek met God te hê. Oor gebed kan daar baie vrae wees. Hoe doen ‘n mens dit? Hoe bid ‘n mens reg? Kan ‘n mens verkeerd bid? Ook dieper vrae: Word my gebede verhoor? Is dit nie maar net ’n gewoonte nie? Vanuit God se Woord ontdek ons weer die wonderlike krag van die gebed. Daarin luister ons na die woorde van Jesus.
Hy leer ons om saam te bid
Jesus leer ons om saam te bid. In Lukas 11 is Jesus saam met sy dissipels op reis. Tydens hierdie reis het Hy gebid en toe hy klaar was, vra ‘n dissipel: Here, leer ons bid. En dan leer Jesus hulle presies hoe om te bid. Woordeliks. En hierdie gebed begin met ‘ons’. Die nadruk word baie duidelik daarop geplaas. Ons bid nie die ‘my Vader’ nie. Ons bid die ‘onse Vader’.
Hy leer ons om tot die Vader te bid
Ons spreek God aan as Vader. Onse Vader wat in die hemele is. Dit is ’n groot voorreg om God so aan te spreek. Hy het om Christus wil ons Vader geword. Dit was nie altyd so nie. Sedert die sondeval was God nie meer ons Vader nie. Soos wat ’n kind sy vader aanspreek, so mag ons tot God nader. Ons het ’n persoonlike band. God is ons Vader, ons is sy kinders wie Hy lief het. Vir ’n goeie verhouding is goeie kommunikasie nodig. God as liefdevolle Vader eis dat ons met Hom praat.
Hy leer ons om te bid vir wat goed is
Die gebed wat Jesus ons leer is ’n model gebed. Dit is alomvattend. In hierdie alomvattende gebed, leer Jesus ons om te bid vir wat goed is, sowel geestelik as liggaamlik. Bid saam. Bid saam tot die Vader. Bid saam tot die Vader vir dit wat goed is.
Sing: Ps 148-1:1,5; Ps 43-1:1,3; Sb 10-2 (Onse Vader); Ps 43-1:4,5.
Ds. Gerben Meijer
meijer.gp@gmail.com