Maleagi 3:6-12
‘Keer terug na My, dan sal Ek na julle terugkeer, sê die Here, Heerser oor alle magte. Maar julle vra, ‘Hoe moet ons terugkeer?’
BEKEER TOT DIE ALMAGTIGE GOD
Die Israeliete hou nie van die boodskap wat hulle hoor nie. Onder hulle gaan die praatjie: God het verander. Hy is nie meer dieselfde God as in die tyd van ons voorouers nie. Toe het God vir sy volk gesorg. Nou verloor hulle oorlog na oorlog. Hulle lande is vernietig deur plae. Hulle kry verskriklik swaar. Daar kan net een antwoord wees. God het verander. Dit dink die volk, maar dit is nie waar nie. Daarom sê God in vers 6 – ‘Ek die HERE, het nie verander nie.’ Sy naam is dan – ‘Ek is wie Ek is.’ Hy is die God van die verlede, die hede en die toekoms. Altyd dieselfde. God verander nie. Op elke boodskap wat die Here vir die volk bring, het hulle ’n antwoord. In hulle eie oë is hulle reg. Die Here roep hulle nou tot inkeer.
Die oproep van die HERE
Die oproep klink duidelik: ‘Keer terug na My.’ Die volk moet bekeer. Dit is nodig, want waar die Here onveranderlik is, is die volk uitermate veranderlik. Eiewillig volhard hulle in geloofshoogmoed. Hulle dink hulle het dit nie nodig nie. Hulle sê God het verander. Dit is nie hulle wat verkeerd is nie, dit is die Here wat die verkeerde van hulle verwag. In vers 7 sê Hy vir hulle – ‘Sedert die dae van julle vaders het julle van my insettinge afgewyk en dit nie onderhou nie.’
Die antwoord van die volk
Die Here se opdrag beantwoord hulle: ‘Waarin moet ons terugkeer?’ Wat doen ons verkeerd? Ons is dan kerkmense. So gereeld gaan ons tempel toe. Hoe kan dit Here nou wil hê ons moet bekeer? Hoe kan die Israeliete hulle bekeer as hulle al bekeer is? Dit is hulle antwoord. Die probleem is dat die erns ontbreek. Die erediens word nie in stand gehou nie. Hierin word ons vandag aangespreek m.b.t. tot ons erns oor die eredienste van ons Jesus Christus.
Die belofte van die HERE
Die profeet plaas die fokus op God, wat Hom tot ons keer, want as daar by mense vasgehaak word, dan bly dit ’n moedelose situasie. As God Hom nie tot ons keer nie, sal ons nooit bekeer nie. Hy wil ons seën, en Hy seën ons. Deur die sonde is die mens se oë blind daarvoor. Deur Jesus Christus kan ons die volheid daarvan raaksien. Deur Hom is dit moontlik om ’n lewe van bekering te leef.
Gesprekspunte
- In watter opsigte is dit nodig in ons tyd om te bekeer? Hoe dink jy word God vandag deur mense van sy eer beroof?
Liturgie: Ps. 66:1,2,7; Ps. 69:1,3; Ps. 105:5; Ps. 67:1; Ps. 68:9; Ps. 65:1,2,4.
Ds. Gerben Meijer
meijer.gp@gmail.com