Skip to content
Menu

Maleagi 3:13-4:6

‘Maar vir julle wat ontsag het vir my Naam, sal die son van geregtigheid deurbreek met genesing in sy strale. Dan sal julle uitgaan en bokspring soos kalwers wat op stal was…’

DIE TWEESNYDENDE WERKING VAN DIE WOORD VAN DIE HERE

Uiteindelik is daar inkeer by van die Israeliete. Die woorde van die Here neem hulle ter harte. In die laaste gesprek word dit sigbaar. Dit het ons in vers 16 gelees – ‘Daarop het dié wat vir die Here ontsag het, met mekaar geredeneer. Die Here het goed geluister en dit gehoor. Dit is toe in sy teenwoordigheid in ‘n gedenkboek opgeteken tot voordeel van diegene wat ontsag vir die Here en respek vir sy Naam het.’ Hier sien ons die kragtige werking van die Woord van die Here. Die Woord van die Here word aan sy volk verkondig. Die dwalende kerk hoor dit. Baie hoor, maar luister nie. Ander hoor en gehoorsaam. Die Woord van die Here werk soos ’n tweesnydende swaard. In Hebreërs 4:12 word dit beskryf – ‘Want die woord van God is lewend en kragtig en skerper as enige tweesnydende swaard, en dring deur tot die skeiding van siel en gees en van gewrigte en murg, en is beoordelaar van die oorlegginge en gedagtes van die hart.’ Vanoggend mag ons hierdie Woord weer hoor. Vlymskerp. Die Here sluit sy gesprek met sy volk af. Dit is die laaste keer wat Hy ’n profeet na hulle stuur.

Die verharding van ’n ongelowige hart

Die laaste gesprek begin die Here met die volk. Hy spreek hulle aan oor hulle vermetelheid. In hulle oë is hulle dit nie. Baie van die Israeliete verhard hulle teen die Here. Hulle sê Hy is ’n onregverdige God. Die Here waarsku hulle. Vir ’n laaste keer roep Hy hulle tot bekering. Wie se hart verhard bly teen die Woord van God sal brand in die vuuroond op die dag van die Here.

Die versagting van ’n gelowige hart

In Israel is daar mense wat gehoor gee. Vers 16 – ‘Toe het die wat die HERE vrees, met mekaar gespreek…’ Die Woord vind ingang in hulle harte. Daar vind bekering plaas. Hierdie mense noem die Here sy eiendom. In ewigheid sal Hy saam met hulle leef. Met hulle sal Hy medelye hê. Selfs soveel dat sy Seun vir hulle sal instaan. Dan sal hulle die regverdige oordeel van God deurstaan.

Gesprekspunte

  1. Wat is volgens 3:16-4:2 die kenmerkende eienskap van hulle wat gesê word: ‘Hulle sal aan My behoort’?
  2. Wat beteken Maleagi 4:2? Wie is die stralende lig uit die hemel? Watter genesing ontvang ons in sy strale?