Skip to content
Menu

Daniël 2:1-3; 19-45  
HK Sondag 48

‘In die tyd van daardie konings sal die God van die hemel ‘n koninkryk vestig wat vir ewig nie vernietig sal word of aan ‘n ander volk oorgelaat sal word nie. Hierdie koninkryk sal al daardie ander verpletter en tot ‘n einde bring, en dit sal standhou vir ewig.’

LAAT U KONINKRYK KOM

GOD EN DIE WÊRELDPOLITIEK

Waaroor droom jy? Meestal word ons drome in verband gebring met die toekoms. Ons droom oor ons ideale en dit wat ons wil bereik. In Daniël 2 gaan dit ook oor ‘n droom. Eintlik oor ‘n nagmerrie. Want hierdie droom het die tiran en die diktator van die tyd, heeltemal omgekrap. Koning Nebukadneser is ‘n man wat alles het. Hy is ryk, hy regeer oor ‘n groot deel van die wêreld. Daar is nie vandag ‘n regeerder wie se grondgebied so groot is nie. Hy het alles wat menslik moontlik is. En daarom het hy het nie meer soveel om oor te droom nie. Maar as jy alles het, loop jy die gevaar dat jy alles kan verloor. Dit het gebeur. Hierdie man moes leer dat God in beheer is. In vers 21 hoor ons hoe die Here te werk gaan. Sy koninkryk gaan kom –  ‘Hy tog verander die tye en die geleenthede; Hy sit konings af en stel konings aan; Hy verleen wysheid aan die wyse manne en kennis aan die wat insig het.’

Vrees vir die toekoms

Nebukadneser se nagmerrie maak hom bang vir die toekoms. In die wêreld is daar soveel dinge om voor bang te wees. Selfs die magtigste mense ken dit. Dié vrees maak mense onredelik. Dit maak dat hulle van God vergeet. Vinnig kan hierdie vrees ons ook beetpak. In besonder in hierdie tyd wat ons in Suid-Afrika leef.

Vrees vir die Here

Die koning gee opdrag dat al die wyse manne doodgemaak moet word. Dit sluit Daniël en sy vriende in. Hierin sien ons hoe ‘n kind van die Here optree. Daniël is nie bang vir die koning nie. Hy weet die Here is baie groter as wat hy is. Daarom gaan bid hy vir die Here. Hy is ‘n Godvresende man en hy weet dat hy veilig in die ryk van die Messias is.

Vrees sonder angs

Hoe sien ons God se regering nou vandag raak? As ons na die praktyk kyk dan sien ons dat mense nie met mag kan omgaan nie. Dit bly chaos. In die bergrede sê Jesus dat dit net erger sal raak. Maar moet dit ons bang maak? Verseker nie. Die steen wat die wêreldse koninkryke verpletter bied uitkoms. Vandag deel ons in sy ryk – die Koninkryk van Jesus Christus. Hy wat ons leer om te bid: Laat U koninkryk kom!