1 Konings 19:1-18
‘Hy het toe opgestaan, geëet en gedrink. Met die krag van daardie voedsel het hy veertig dae en veertig nagte geloop, tot by Horeb, die berg van God.’
ELIA WAS ‘N MENS NET SOOS ONS
In Jakobus 5:17,18 staan – ‘Elia was ‘n mens net soos ons, en hy het vurig gebid dat dit nie moet reën nie, en dit het drie jaar en ses maande lank nie op die aarde gereën nie. Toe het hy weer gebid, en die hemel het reën gegee, en die aarde het sy vrug opgelewer.’ Dit was ‘n geweldige oomblik vir die profeet Elia, toe – na die lang dag op die berg Karmel – die HERE vuur uit die hemel laat neerslaan en die brandoffer, die hout, die klippe en die los grond verteer. (1 Konings 18:38) Die HERE die God van Israel openbaar Homself kragtig. Die volk getuig – ‘Die HERE, Hy is God! Die HERE, Hy is God!’ Elia mog God se dienaar wees, hy was ‘n instrument in sy hand. Hy mog hierdie hoogtepunt beleef. Maar 24 uur later beleef hy ‘n geestelike laagtepunt. Dan sien ons hoe kwesbaar hierdie profeet van die HERE is.
Dit is nou genoeg, HERE!
Die profeet van die Here, is uitgebrand, teleurgesteld en uitgeput. Noudat Isebel hom met die dood dreig, sak die held van gister, se moed vandag in sy skoene. Bang, bekommer en depressief vlug Elia, maar hy vlug na die regte kant toe. Na God, na die woestyn, na die witbesembos. Elia ken sy grense. Nou gaan gee hy sy opdrag terug aan sy opdraggewer. Die werk wat die Here vir hom gegee het, dit is teveel, dit is te swaar. Hy sê vir die Here – ‘Dit is nou genoeg HERE! Neem my lewe, want ek is nie beter as my voorouers nie.’ Maar Elia se gebed word nie verhoor nie. Daar verskyn ‘n engel wat vir hom brood en water gee. Hy kry nuwe krag. Nie om met die ou agenda voort te gaan nie, maar om verder na God te gaan.
Wat maak jy hier, Elia?
Hierdie vraag van die Here het die doel dat Elia sy hart moet uitstort. Dit doen hy ook. ‘Ek het my volle ywer getoon vir die Here…’ Die woorde van Elia in die grot klink bitter. In die stilte kom die HERE na hom toe. En na die stilte kom dieselfde vraag nog ‘n keer. Elia, wat doen jy hier? Elia besef. Die HERE is hier. Hy is aanwesig. Hy gee uitkoms. ‘n Godsontmoeting is altyd ‘n konfrontasie met jouself.
Gaan terug op jou pad
Die HERE stuur vir Elia terug op sy pad. Hy het hom versterk, Hy het vir hom krag gegee. Die brood en water wys heen na die brood van die lewe en die lewende water. Beelde wat ons aandag direk op Christus plaas. Elia het die HERE ontmoet by die berg van God Horeb en nou word hy van hier verder gestuur om die werk van die Here te gaan doen.
Gesprekspunte
- Watter betekenis het stilte in jou lewe? Watter rol speel stilte in jou verhouding met God?
Liturgie: Ps. 8:1,2,3,4; Ps. 1:4; Ps. 107:2,4,9; Sb. 10-2; Ps. 107:10,18,21.
Ds. Gerben Meijer
meijer.gp@gmail.com