Spreuke 6:1-19
HK Sondag 50
‘Gaan na die mier, luiaard, kyk na sy weë, en word wys.’
ALLES WAT ONS ONTVANG KOM VAN GOD
Ons bid tot God: Gee ons vandag ons daaglikse brood. 6 woorde waarmee ons iets baie groots van God vra. Ons vra dat Hy ons versorg. Dat ons alles wat ons nodig het, van God kan ontvang. Dit klink miskien ’n bietjie snaaks. Ons vra vir brood, terwyl vir die meeste van ons brood geen belangrike waarde het nie. Vir ons het brood ander waarde as vir die Israeliete wat destyds geleef het. Vir hulle was brood die noodsaaklikste en mees algemene bron van voedsel. Sonder brood kon die liggaam nie gevoed word nie. Ons kyk maklik hierby verby. In die daaglikse brood, gaan dit oor veel meer as net brood. Dit gaan oor alles. Alles wat God aan ons gee. Van die rou produkte van die natuur tot jou selfoon in jou broeksak, tot jou rekenaar by die huis en jou kar wat hier buite staan. As ons tot God bid: Gee ons vandag ons daaglikse brood, dan moet ons weet wat ons vra. In die daaglikse brood is al ons lewensmiddele ingesluit. Jesus leer ons om so tot God die Vader te bid.
Die oorsprong van ons daaglikse brood
As ’n mens praat van ’n oorsprong, dan bedoel jy die bron waarvandaan iets kom. Deur die geloof bely ons dat die oorsprong van ons daaglikse brood God is. Hy is die Skepper van alles. Die Here voorsien vir ons liggaamlik sowel as geestelik. Hy verduidelik dit vir ons in Spreuke aan die hand van borg staan. Hy leer daar vir ons ‘n waardevolle les i.v.m. borg staan. Op mense kan jy nie vertrou nie, slegs op God. Hy is immers die ware Borg wat voorsien in alle nood.
Die gebruik van ons daaglikse brood
Wat doen ons nou met hierdie genadegawe? Dit is ’n baie aktuele tema, wat elkeen van ons raak. Elkeen van ons is op hierdie wêreld geplaas met ’n taak en dit is om te werk. Paulus herinner die lidmate van Thessalonika aan hierdie feit: ‘As iemand nie wil werk nie, moet hy ook nie eet nie.’ Die Here gee vir ons voorbeelde vanuit die natuur. Kyk na die mier, kyk hoe hy te werk gaan. Die Here gee vir ons ‘n kultuur opdrag. Dit is ons opdrag om die aarde te bewoon en te bewerk. Om sodoende besig te wees dat jy jou talente ten volle benut tot opbou van die eer van God.
Ds. Gerben Meijer
meijer.gp@gmail.com