Galasiërs 1:1-9
Johannes 14:1-7
‘Daar is nie ‘n ander evangelie nie – al is daar sommige mense wat julle probeer verwar, en die evangelie van Christus wil verdraai.’
DIE ENIGE WARE EVANGELIE VAN JESUS CHRISTUS
Daar is nie ’n ander evangelie nie. Geen ander evangelie! Dit klink amper soos strydkreet. Tydens die tweede wêreldoorlog is dit so gebruik. 80 Jaar gelede was die Nazi ryk in Duitsland op die voorgrond. Hulle het die evangelie van Christus ontken. Hulle het die evangelie aangepas en vervorm volgens hulle eie mening. Die Lutherse kerke in Duitsland het hulle laat meevoer met die nuwe owerheid. Hulle het nie in verset gegaan nie. Maar nie almal in Duitsland nie. In 1934 het die Bekennende Kirche in Duitsland ontstaan. Hierdie kerk het in die verklaring van Barmen dit so gestel: ‘Jesus Christus, soos wat oor Hom in die Heilige Woord getuig word, is die enige Woord van God, waarna ons moet luister. Op Hom moet ons in lewe en in sterwe vertrou. Jesus Christus is die Woord. Hy is die waarheid. Sy evangelie is die enige waarheid. Daar is geen ander evangelie nie!’ Dit op basis van Galasiërs 1. Daar is net een evangelie.
Die waarheid van die evangelie
Galasië was een van die Romeinse provinsies. Vandag is die plek in Turkye. Paulus het die evangelie verkondig in hierdie provinsie. Hier het mense tot geloof gekom in Jesus Christus en sodoende het daar kerke in Galasië ontstaan. Kort nadat Paulus daar weg is, het hulle van die evangelie afgedwaal. Joodse dwaalleraars het gekom en aan hulle verkondig dat hulle die Joodse gebruike moet onderhou. Saligheid word dan verkry deur Christus plus die Joodse rituele.
Die oorsprong van die evangelie
Paulus roep hulle terug na die evangelie toe. Hulle moet nie na mense luister nie, maar na die enige ware God. Sy woord klink duidelik in die evangelie. Slegs daardeur word jy vry van die sonde. Die Galasiërs moenie hulle self aan die sonde vasbind deur menslike gebruike nie.
Die vryheid deur die evangelie
Net deur Jesus Christus word jy vry. Net deur sy Woord en Gees word ware en opregte geloof gewerk in die harte van mense. Deur die sonde voel hierdie vryheid vir die mens nie vry nie. Inteendeel, vir die sondige mens voel dit of die wil van die Here ’n swaar las is. Met die sonde moet gebreek word. Dit is ware vryheid.
Ds. Gerben Meijer
meijer.gp@gmail.com