1 Samuel 3:1-14
Die Here het gekom en gaan staan, en geroep soos die vorige kere: “Samuel! Samuel!” Samuel het geantwoord: “Spreek, want u dienskneg luister.”
SAMUEL SE ROEPING DEUR GOD
Samuel het in die heiligdom van God gewoon. As ‘n jong seun was hy daar by die priester Eli. Sy ma Hanna het vir die Here gebid, sy wou graag ‘n kind hê. Sy het belowe as die Here haar met ‘n seuntjie seën, sal hy daar in die heiligdom diensbaar wees. So kry ons vir Samuel. Daar bly hy al reeds van jonk af by Eli. Hy dien die Here. Die Here en die mense om hom, het hom in guns aanskou. Baie anders as die seuns van Eli. Saam met Hofni en Pineas het Samuel grootgeword, maar die twee het die Here nie gedien nie. Hulle het die mense afgepers en het slegte en verkeerde dinge gedoen. Hulle het daar goed van die Here gesteel. In hierdie tyd hoor ons nou – ‘’n Woord van die Here was seldsaam in daardie dae; geen visioene het voorgekom nie.’ Al gaan die eredienste in die tempel aan. Is dit die realiteit wat gebeur. Maar tot op ‘n dag, en dan spreek die HERE weer.
God spreek
God roep vir Samuel as sy profeet. Samuel slaap in die heiligdom. Dit was al laat in die nag. Al eintlik vroeg in die oggend, want daar staan dat die lamp amper uitgedoof was. Die tempel is verlig met die Goue Kandelaar (die sewearmige kandelaar – menora – moes van die oggend tot die aand brand). Die nuwe dag gaan amper begin. Dan klink die stem. “Samuel” – maar Samuel herken die stem nie. Daar staan – Samuel het nog nie die Here geken nie, en die woord van die Here was nog nie aan hom geopenbaar nie. Eli besef ook nie direk nie, eers na die derde keer kom hy agter dit is die Here wat praat. Om God se stem te verstaan, verg tyd en bereidwilligheid om te leer luister.
Samuel luister
Vir die vierde keer roep die Here – Samuel, Samuel. Dan luister Samuel. Sy woorde – Spreek, want u dienskneg luister. Hier gebeur eintlik ‘n dubbel wonder. God praat weer en daar is iemand wat luister. Vir ‘n tyd lank was die Here se stem stil. Nou praat Hy en daar is ‘n kind van Hom wat luister, wat gehoorsaam is aan Hom.
Hoe spreek God vandag?
Hoe praat God vandag met ons? Hoe hoor jy God se stem? In sy Woord wys die Here vir jou hoe jy vandag na sy stem luister. Dit word nogal mooi beskryf in Deuteronomium 26:17 – ‘Vir die Here het jy vandag jou woord gegee dat Hy jou God sal wees, dat jy sy paaie sal volg, sy vaste voorskrifte, sy gebooie en beslissings sal nakom en na sy stem sal luister.’
GESPREKSPUNTE
1. Waaraan word die tyd waarin Samuel groot word geken? In daardie dae was ‘n Woord van die Here seldsaam (vers 1). Is die situasie vergelykbaar met die tyd waarin ons nou leef? Hoekom?
2. Wat raak jou die meeste in die gedeelte oor die roeping van Samuel?
Ds. Gerben Meijer
meijer.gp@gmail.com