Johannes 9
Dordtse Leerreëls 5:2
‘Jesus het geantwoord: Nóg hy, nóg sy ouers het gesondig; maar dit het gebeur sodat die dade van God in hom geopenbaar kan word.’
ONS STRYD TEEN DIE DAAGLIKSE SONDES
Hoekom leef ons nou nog onder die sonde? Waarom het Jesus Christus ons nie van ons daaglikse sondes bevry nie? Vrae wat die gedeelte wat ons saam gelees het aanraak. Ook vrae waarmee ons deur die wêreld gekonfronteer word. Hulle wat krities op die christelike geloof is wil weet. Hoekom het God nie net al die sonde weggeneem nie. Dan was daar nie meer hartseer nie. Dan was daar nie meer ellende nie. Hoekom moet julle nou nog so swaar teen die sonde stry? Maar die waarom vraag is nie die regte vraag nie. Meestal kry ons nie daarop antwoord nie. Ons verstaan eenvoudig nie waarmee God met sy almag besig is nie. Die dissipels het vir Jesus ‘n soortgelyke vraag gevra. Hulle wil weet hoekom die man blind is. Hulle wil ook weet wat die oorsaak van sy blindheid is. Is dit sy ouers se skuld? Of is dit die man se eie skuld? So werk dit nie. In ons belydenis word ‘n ander vraag gevra. En dit is: wat is die nut daarvan. Nou hier kan ons vra: wat is die nut daarvan dat ons ou nog onder die sonde leef. Daarop gee Jesus antwoord in Johannes 9: ‘die werke van God moet in ons geopenbaar word.’ In die stryd van die gelowiges teen die sonde, word die werke van God geopenbaar.
Verootmoediging voor God
Die gelowige bly in hierdie lewe onder die mag van die sonde. Die ou mens in ons besmet ons hele bestaan daarmee. In Jesaja 64:6 staan daar – ‘En ons het almal geword soos ‘n onreine, en al ons geregtighede soos ‘n besoedelde kleed.’ Selfs ons allerbeste werke kan nie bydra tot ons verlossing nie. Selfs dit is deurtrek van die sonde. Die Here hou ons nederig. Nooit kan genade hoogmoedig wees. Dit lei altyd tot verootmoediging.
Toevlug neem tot Christus
God is ‘n toevlug in die nood. Daar waar die duiwel die gelowige deur die sonde verlei en daarin slaag, daar werk die Heilige Gees bekering en berou in sy hart. Daardeur dryf hy hulle weer na die gekruisigde Christus. Met ons sondeskuld gaan ons daagliks na ons Saligmaker toe. Die sonde is oorsaak dat ons, ons toevlug gedurig tot Christus neem.
Verlange na volmaaktheid
Paulus sê in die brief aan die Filippense – ‘Nie dat ek dit al verkry het of al volmaak is nie, maar ek jaag daarna of ek dit ook kan gryp, omdat ek ook deur Christus Jesus gegryp is.’ Die sonde en die ongeregtigheid is die oorsaak dat die gelowige na volmaaktheid verlang. Dat hy uitsien na die wederkoms van Jesus Christus en sy ewige heerskappy.
Ds. Gerben Meijer