Lees: Filemon Teksvers: 6 Sing: Ps.43:3, 4; Ps. 32:2, 3; Ps. 33:8, 9
Christus kom in die gewone in en verander dit.
Toe God se Seun na hierdie wêreld kom, is Hy omring van die gewone. Gewone mense met ‘n gewone lewe wat op gewone plekke ‘n bestaan voer. En ook in sy lewe vind jy Hom nie in paleise en raadsale nie, maar tussen die gewone mense wat met hulle gewone lewe van elke dag besig is. As Hy uiteindelik voor een van die belangrikes van daardie tyd staan, word Hy veroordeel om saam met twee misdadigers te sterf.
Hy kom om die gewone te verander. Dié wat groot is in hulle eie oë, en Hom verwerp, verander Hy nie. Die “groot” dinge wat die “belangrikes” doen, bly klein en minderwaardig. Dit bly verwerplik voor God. Maar dié mense wat in Hom glo, verander Hy. Hulle is nie meer gewoon nie en hulle lewe is nie meer gewoon nie.
Nou is my gewone lewe, ‘n grootse lewe.
In die “eienaardige” briefie van Paulus aan Filemon, kry ons insig in die ingrypende verandering wat Christus se koms in die gewone lewe vangewone mense gebring het. Filemon het te doen gehad met ‘n gewone saak waarmee mense wat slawe besit het, te doen gehad het. ‘n Slaaf wat weggeloop het en (so kom ons uit die brief agter) waarskynlik ook nog van sy besittings gesteel het. ‘n Saak wat op die gewone harde en wrede manier afgehandel kon word as hy die slaaf in die hande kon kry.
Hierdie “gewone lewe van elke dag” word egter ‘n geleentheid tot ‘n grootse lewe. Let op wat sê Paulus in verse 4-6 vir Filemon. Ons lig twee sake uit:
- Die gewone lewe word ‘n Christusgerigte lewe
Filemon kry die geleentheid tot grootse dinge. Hy kan in die gewone “vir Christus” “goeie dinge” doen. Elkeen van ons is geroep tot ‘n grootse lewe. Elkeen van ons moet in die lewe van elke dag “vir Christus” “goeie dinge” doen.
- ‘n Christusgerigte lewe in die gewone het grootse gevolge
Paulus spel duidelik vir Filemon uit watter gevolge dit het wanneer gelowiges Christusgerig lewe. Dit het ‘n ingrypende uitwerking op medegelowiges. Paulus sê dat dit innerlike rus aan mense gee (v.7). Mense wat in die geworstel van elke dag aan die einde van hulle kragte gekom het, ontvang verkwikking vir hulle siele.
Bid vir insig om grootse dinge te kan doen in die gewone.
Dit is duidelik dat dit nie so eenvoudig is om te weet hoe om in die gewone lewe grootse dinge te doen nie. Paulus bid dat Filemon hierin dieper insig sal ontvang (v. 6). Terwyl ons nou al hoe nader kom aan die nuwe jaar, laat ons bid vir hierdie soort insig. Vra vir insig om te weet hoe jy volgende jaar in jou gewone lewe van elke dag grootse dinge kan doen!