Skip to content
Menu
Lees: Nehemia 3 & Efesiërs 2:11-22 Teks: Efesiërs 2: 21-22 Sing: Ps. 149:1,2,3,4; Ps. 25:2,6; Ps. 87:1,2,5; Sb. 10-2; Ps. 118:11,12.

‘In Hom verrys die hele gebou, goed saamgevoeg, tot ‘n heilige tempel in die Here. In Hom word julle ook saam opgebou tot woonplek van God deur die Gees.’

Samewerking as liggaam van Jesus Christus

Mure is vir ons ’n bekende beeld. Dit staan rondom ons huise. ’n Muur het ’n baie spesifieke doel. Dit wat sleg is hou dit buite, sodat dit wat binne veilig is. ’n Muur beskerm. In Nehemia 3 word die muur van Jerusalem herstel. Nehemia se gebed is verhoor. Sy plan is goedgekeur. Dit gebeur. Jerusalem word reggemaak. Hierdie groot projek word begin. Wat sê die Here vir ons vandag in hierdie gedeelte van sy Woord? Ons het ’n muur nodig. Vir veiligheid in hierdie wêreld waarin ons leef. Om die liggaam van Christus te beskerm. ‘Ons worstelstryd is nie teen vlees en bloed nie, maar teen die owerhede, teen die magte, teen die wêreldheersers van die duisternis van hierdie eeu, teen die bose geeste in die lug.’ Hierdie muur hou die duisternis buite. Die bose en alles wat sleg is. Dit is buite. Binne gee dit sekerheid. Identiteit. ’n Lewe in die lig.

Eenvoudige mense

Die volk begin bou. Almal neem deel. Nehemia gee vir ons ’n deeglike verslag van wat gebeur. Waar almal werk. Die predikante, juweliers, aptekers, handelsmanne, manne, vrouens en kinders – Almal help. Almal laat hulle werk staan en neem deel aan hierdie groot taak. Die volk van God is aan die werk. Ons sien die liggaam van Christus in die praktyk. Elkeen met sy unieke gawes neem deel aan hierdie groot onderneming. In Jerusalem sien ons die volk van God aan die werk. Vandag is ons hier besig met ons werk. Ons as die liggaam van Christus. Ons bou ’n gebou met mense. Hierdie gebou waaraan ons werk, word nie gemaak met fisiese stene nie. Dit word gebou met lewende stene.

Gemeenskaplike doel

Die Israeliete het ’n gemeenskaplike doel voor oë. Die stad van God, met sy tempel daarin, moet beskerm word. Dit moet gebeur sodat Jesus Christus gebore kan word. Ons leef in die tyd na Christus. Ons het ook ’n gemeenskaplike doel. Ons doel is om eendragtig liggaam van Jesus Christus te wees. Om goed saamgevoeg te wees as ’n heilige tempel van die Here!

GESPREKSPUNTE
1. Wat is die betekenis van Nehemia 3 vir ons vandag as kerk? Hoe kan ons dit in verband bring met Efesiërs 2:19-22?

2. Is jy ywerig besig met jou geloofslewe?

Ds. Gerben Meijer
meijer.gp@gmail.com