Skip to content
Menu

Lees: Jona 3 & 4 Teks: 4:5 Sing: 148:1, 5; Ps. 89:17, 18; Ps. 66:2, 7.

Moenie God se genade probeer verander nie. Word self deur sy genade verander!

‘n Selfsugtige toeëien van God se genade lei tot karikatuur-arbeiders in die koninkryk.

Die boek Jona, en in besonder die vierde hoofstuk, stel die radikale andersheid van die arbeiders in God se koninkryk aan die orde. Ons andersheid as arbeiders is in besonder geleë in ons verhouding met mense wat skuldig of veragtelik optree; of mense wat ons skade aangedoen het of wat ons bedreig! Arbeiders in God se koninkryk gee om, bid vir berou, vergeef en soek die goeie vir hierdie mense. 

Dit is God se genade wat mense tot sulke arbeiders verander. Waar hierdie genade van God egter selfsugtig toegeëien word, vind hierdie verandering nie plaas nie, maar word mense eerder karikatuur-arbeiders in die koninkryk. Ons sien dit duidelik by Jona. Die wyse hoe hy God se genade verstaan en toepas, bring hom in direkte botsing met God. Met al die mooi woorde van God se genade op sy lippe, is hy ‘n karikatuur-arbeider. Let op: sy doodswens kom grootliks ooreen met Elia s’n (vgl 1 Kon 19). Daar is egter ‘n reuse verskil. Elia wou doodgaan omdat daar verharding was teen God se Woord. Jona wil doodgaan juis omdat mense na God se Woord geluister het en hulle bekeer het! Wanneer mense God se genade selfsugtig toeëien, lei dit tot karikatuur arbeiders.

God se genade verander mense tot arbeiders wat omgee soos God omgee.

In Jona 4 lees ons hoe God by Jona aandring om te verander. Hy wat God se genade so goed ken, moet verander tot ‘n arbeider wat omgee soos God omgee.

  • Jona gaan uit die stad uit wat hy hoop vernietig sal word (v. 5). Hoe anders is Hy nie as sy Sender wat Hom met sy volk verenig het nie?
  • Jona met sy powere skuiling word deur ‘n wonderplant, die son en die wind herinner aan die ware koelte van God se genade wat Jona en sy volk onverdiend ontvang het(v. 6-8).
  • Jona begryp nie die totale ellende waarin die mense van Nineve sonder die Woord verkeer nie (v. 11)!

Luister as God jou leer.

‘n Mens word veral in hoofstuk 4 getref deur God se groot geduld met Jona, die karikatuur arbeider. Jona word deur God onderrig. Wanneer hy vir God verduidelik hoekom sy eie “woord”  (4:2) beter is as die Woord van God wat tot hom gekom het, verduidelik God met dieselfde aantal woorde aan Hom hoe verkeerd hy is.

God gebruik selfs aanskoulike onderwys om Jona tot sy sinne bring.

Wat was uiteindelik Jona se reaksie? Dit word nie gesê nie. Soos met die oudste seun in die gelykenis van Lukas 15, word nie gesê of Jona se hart verander het nie. Hoekom nie? Omdat God van die leser, van ons, vra om te verander. Die vraag is of ék omgee soos God omgee.