Rigters 16:15-31
Toe roep Simson na die Here en sê: “Here, my Heer, dink tog aan my! Maak my asseblief nog net hierdie keer sterk, o God, sodat ek my vir een van my twee oë op die Filistyne kan wreek.”
Kyk met jou hart
Die gedeelte oor Simson gaan oor wapens en geweld. God gee vir Simson aan Israel met die opdrag om die Filistyne te verslaan. Die onderdrukkers van die tyd. Hy moet dit met wapens doen. Jare later gee God vir Jesus aan die wêreld. Sy eie Seun. Jesus sê self: “Moenie dink dat Ek gekom het om vrede op die aarde te bring nie. Ek het nie gekom om vrede te bring nie, maar die swaard.” (Mattheus 10:34) Jesus, die Vredevors, gee ons wapens! Later skryf die apostel Paulus, dat ons van die Heilige Gees ‘n volledige wapenrusting kry: ‘n Helm, ‘n skild, ‘n swaard. Hoekom? Omdat daar ‘n stryd gevoer word agter die stryd. Agter haat en oorlog, agter verleiding en vervloeking, agter die Filistyne en hulle vreemde afgode, sit daar ‘n ander vyand. Die moordenaar en die leuenaar van die begin af. Die bron van alle kwaad. Die vyand van die vrede. En Jesus het gekom om hom die duiwel te verslaan. Om so vrede terug te bring. Vrede tussen mense. Maar ook vrede met jouself. Daar woed ‘n stryd agter die stryd. In die stryd staan ons in Christus. Jare terug het Simson dit by sy sterwe bely – ‘HERE, my Heer, dink tog aan my!’ Die Here werk geloof in harte. Hy maak ons oë oop. Dit is vandag hier in ons midde in die openbaar bely.
Kyk met jou hart na Simson
Rigters 16 is ‘n stormagtige hoofstuk. Daar gebeur soveel. Dit lyk of Simson dieper val as ooit tevore. Die verleiding kom een na die ander. Die aanvalle op Simson is goed gemik. Die verleider ken sy swak plekke. Hoe maklik hy deur vroue verlei word. Maar in wese is sy swakste plek sy krag. Sy krag maak hom hoogmoedig. Dit maak hom arrogant. Sy krag is uiteindelik sy swakheid, want daardeur word hy geestelik blind. Hierin kyk ons met die hart na Simson, want dit is alles nie so ver weg nie. Dit waardeur hy siende blind geword het, is vandag nog net so groot gevaar. Trots, voorspoed, geld, vryheid, onafhanklikheid. Wie kan iets aan my doen? Dit is die leuse van die sondige aard van die mens.
Kyk met jou hart na Jesus Christus
Tog is dit nie die einde van Simson nie. Want op die einde van sy lewe, maak die HERE weer sy oë oop. Die oë van sy hart. Die Here verlaat sy uitverkore kinders nie. Hy red hulle deur Christus. Die gebeure in Rigters 16 plaas ons fokus op Hom. Deur sy krag leef Simson. Sterf hy sy aardse dood met die woorde van sy God op sy lippe. Simson het sy lewe vir sy volk gegee. Omdat hy nieteenstaande al sy sondes God se dienaar gebly het, word hy in Hebreërs 11 ook tot die geloofshelde gereken. In al sy swakheid is die krag van God tog in sy lewe geopenbaar. Die lig van God se genade val ook oor hierdie donker lewe.
GESPREKSPUNTE
1. Wat openbaar God oor Homself aan ons in hierdie gedeelte?
2. Wat leer jy in hierdie gedeelte oor jouself veral as jy dit in verband bring met Romeine 7:14-25?
Ds. Gerben Meijer
meijer.gp@gmail.com