1 Johannes 1:8-2:2
Markus 14:32-42
Dordtse Leerreëls 2:3,4
‘My kinders, ek skryf hierdie dinge aan julle, sodat julle nie moet sondig nie; en wanneer iemand sondig, het ons Jesus Christus, die Regverdige, as Parakleet by die Vader. En Hy is die versoening vir ons sondes – nie net vir óns sondes nie; maar ook vir dié van die hele wêreld.’
DIE GENOEGSAAMHEID VAN CHRISTUS SE OFFER
Vir die mens om met God versoen te word, moet daar vir die sondes betaal word. Die mens staan in die skuld by God. Voordat die mens se verhouding met God herstel is, moet dit vereffen word. Vanuit die Woord toon die Here duidelik aan hoe daar betaal moet word. Sy eis is duidelik. Eerstens moet die offer deur ‘n mens gebring word. Dit kan nie ‘n mens wees wat self sonde doen nie. ‘n Volmaakte mens wat sonder sonde is. Ook moet die Persoon die volle toorn van God op Hom neem. Daar is net een wat dit kan doen. Net een wat die toorn van die Here kan dra. Dit is Jesus Christus. Die ware God en mens. Net Hy kan die offer bring wat genoegsaam is. Dit was vir Hom ‘n swaar stryd. Ons het dit gelees in die evangelie volgens Markus. Voordat die uur aangebreek het, het hy ontsteld en benoud geword. Hy het vir sy dissipels gesê: My siel is diep bedroef tot die dood toe…tot die Vader het Hy gebid – neem hierdie beker van My weg. Dit was nie moontlik nie. Die wil van die Vader moet geskied. Vir die uitverkorenes om gered te word, moet Christus die toorn van God op Hom neem. En daarin sien ons dat Jesus Christus die ware offer gebring het. ‘n Offer wat genoegsaam is.
Waarvoor is die offer genoegsaam?
Die offer van Jesus Christus is die enigste genoegdoening vir die sonde. Niemand anders kan vir ons sondes betaal nie, verseker nie jyself nie. Al die offers uit die Ou Testament was nooit voldoende nie. Net Jesus Christus kan die volmaakte offer bring. Al is hierdie offer groot genoeg vir die sondes van die hele wêreld, bring Hy dit net vir die uitverkore kinders van God.
Waarom is die offer genoegsaam?
Die Here eis dat die mens vir sy sonde moet betaal. Die mens het gesondig en daarom is dit so. Daarom het Christus die gestalte van ‘n mens aangeneem. Hy het soos ons geword. Maar anders as ons is Hy waaragtig en heilig mens – volmaak en sonder sonde is Hy. Ook is Hy ware God. Dit moet Hy wees om die Goddelike toorn te dra.
Ds. Gerben Meijer
meijer.gp@gmail.com