Skip to content
Menu

Lees: Psalm 23 Tekverse:5 Sing: Ps. 34-1:1,2,6; Sb. 12-3:1,2; Ps. 86-1:1,6; Ps. 23-1:1,2; Ps. 80-1:1,10; Ps. 23-1:3; Psalm 116; Sb. 5-3:1,4,5.

‘U berei die tafel voor my aangesig teenoor my teëstanders; U maak my hoof vet met olie; my beker loop oor.’

DIE HERE IS ONS HERDER

Die Psalm 23 is een van die bekendste Psalms in die Christendom. Dit is een van die bekendste liedere in die wêreld. Hierdie lied van Dawid bied vertroosting in die moeilikste omstandighede. Deur die loop van die eeue het hierdie woorde, oraloor pyn en hartseer genees. In die swaarste tye gee hierdie Psalm uitkoms. Dit rig die harte op die Almagtige God. Die Here as herder waak oor ons vir altyd en ewig. Sy trou en sy sorg sien ons deur die loop van die lewe. Sy hulp en ondersteuning mag elkeen van ons ervaar in ons eie lewens. Hy pas ons op, soos ’n herder sy skape oppas. Hy hou ons dop, Hy laat ons nooit uit die oog nie. By hierdie beeld sluit ons Here Jesus aan. In die evangelies noem Hy Homself die Goeie Herder. Die Herder waarvan koning Dawid, jare tevore gesing het wys na Hom toe. Juis op hierdie dag, waar ons weer stilstaan by die opstanding van ons Here Jesus Christus, waar ons saam Nagmaal mag vier, sien ons daarin dat Hy die enigste ware Herder is. ‘n Herder wat selfs die dood oorwin het, sodat sy skape nie verlore sal gaan nie.

Hy pas ons op as sy kinders

Soos ’n Herder sy skape oppas, so pas die Here ons op. Ons is syne. Ons name staan in sy handpalms gegraveer. Ons is nie sommer net mense nie. Ons is kinders van God. Dit besef koning Dawid toe hy die psalm gedig het. Hy gebruik ‘n beeld wat vir hom baie bekend was. As klein kind het hy die skape van sy pa opgepas. Hy was self ‘n herder. Hy weet wat die verantwoordelikheid daarvan is. Die herder moet vir die skape sorg. In alles is hulle van hom afhanklik. Hierdie beeld sien hy tussen ons en God. In alles is ons van Hom afhanklik.

Hy lei ons deur die dal van die doodskaduwee

Die Here is ons Herder selfs deur die dood heen. In Psalm 23 word daar gesing van die doodskaduwee. Dit het die dood geword. Jesus Christus het vir die sonde betaal. Hy het die Satan verslaan. Hy het uit die dood opgestaan. Daarom is die angel uit die dood verwyder. Daarom gaan ons net deur die dal van die doodskaduwee.

Hy gee vir ons ewige troos

‘Net goedheid en guns sal my volg al die dae van my lewe; en ek sal in die huis van die Here bly in lengte van dae.’ Die Here is ons Herder tot in ewigheid. Na waters waar rus is lei Hy ons heen. Na die groen weivelde. Die Goeie Herder bewerk vir ons lewe tot in ewigheid.

GESPREKSPUNTE
1. Wat openbaar God oor Homself aan ons in hierdie gedeelte?

2.Wat is die verband tussen Psalm 23 en dit wat tydens die viering van die Heilige Nagmaal gebeur?

Ds. Gerben Meijer
meijer.gp@gmail.com