Romeine 5:12-21
DL ¾:2,3
‘Daarom, soos deur een mens die sonde in die wêreld gekom het en as gevolg van die sonde die dood, so het die dood ook tot alle mense deurgedring, omdat almal gesondig het.’
DIE ERFSONDE
Hoe is dit moontlik dat ‘n kind so egoïsties kan wees? So selfgesentreerd? Van kleins af eiewillig en ongehoorsaam. Waar kry ‘n kind dit vandaan? Jong ouers kom vinnig agter dat die leer van die erfsonde nie net ‘n abstrakte teologiese begrip is nie. Dit is baie konkreet, want die erfsonde beskryf presies wat die mens is. Niemand hoef sy kind te leer hoe om sonde te doen nie. Niemand hoef sy kind te leer hoe om selfgesentreerd en egoïsties te wees nie. Hulle doen en is dit vanself. Deur die sonde is elke kind en elke mens op hierdie aarde so. Dit sit in ons. ‘n Baba word nie soos ‘n skoon vel papier gebore nie. Elke kind wat gebore word, is nakomelinge van Adam en Eva. Hulle is ons stamouers, wat in sonde geval het. En daarom is ons almal daardeur besmet.
In sonde ontvang en gebore
Elke mens deel in die erfsonde. Adam en Eva verteenwoordig die hele menslike geslag. Adam is ons verbondshoof. Daarom is sy sonde van betekenis vir almal, wat deel is van hierdie verbond, dus alle mense. Ons erf die skuld, dit staan op ons rekening. Van geslag tot geslag word dit oorgedra.
Deur sonde tot die dood verlore
Die Here het vir die mens ‘n belangrike plek in sy skepping gegee – hy was beeld van God. Van hierdie hoë posisie het die mens geval. Die diepte in. Hy is selfs tot die dood verlore. Ons belydenis sê dat ons onbekwaam is tot enige iets goeds en dat ons geneig is tot alle kwaad.
Deur die Heilige Gees weergebore
Ons bely – ‘Sonder die genade van die Heilige Gees, wat die wedergeboorte skenk, kan en wil hulle nie tot God terugkeer of hulle bedorwe natuur verbeter of onderneem om dit te verbeter nie.’ Die Heilige Gees skenk die wedergeboorte op basis van die werke van Jesus Christus. Romeine 5 beskryf kragtig hoe Hy te werk gaan. Want soos deur die ongehoorsaamheid van die een mens (Adam) baie tot sondaars gestel is, so sal ook deur die gehoorsaamheid van die Een (Christus) baie tot regverdiges gestel word.