Nehemia 9:1-8 & 31-39
‘Op die vier-en-twintigste dag van hierdie maand het die Israeliete byeengekom, terwyl hulle vas in rouklere, en met grond op hulle koppe. Die nageslag van Israel het hulle afgesonder van al die uitlanders. Hulle het gestaan en belydenis gedoen van hulle sondes en die sondeskuld van hulle voorouers.’
Buig voor die Almagtige God
In Nehemia 9 staan die volk Israel stil by hulle sondes. Hulle doen selfondersoek. Nie lank hiervoor nie, het die stad nog fees gevier. Dit het ons laasweek gelees. Die Loofhuttefees wat in ere herstel is. Die volk wat die wette lees, maar eers moet hulle fees vier. Hulle dank teenoor die Here bewys vir sy goedheid. Groot vreugde was daar vir agt dae in die stad. Toe die wet vir die mense gelees word, het hulle hartseer geword. Hulle het toe al raakgesien hoe verkeerd hulle was. Toe was dit nie die tyd om hartseer te wees nie. Toe was dit ’n tyd om bly te wees oor dit wat die Here gedoen het. Nou ’n paar dae later het die tyd aangebreek vir berou en belydenis. Alles het sy tyd en plek. Die fees verby. Nou moet hulle die harte deursoek. Nou is dit tyd om hulle harte oop te breek voor die Here. Ons kyk na die berou van die Israeliete voor die Here. Vir ons is dit ’n groot voorbeeld van nederigheid voor die Almagtige God.
Berou oor die sonde
Tydens die Loofhuttefees was daar groot vreugde in die land. Die volk is opgeroep om bly te wees, om die Here te loof en te prys vir sy goedheid. Nou, nadat die fees verby is, is dit tyd om die harte te deursoek. Die volk hou ’n vas- en biddag. Hulle sien die sonde in hulle eie lewens raak. Hulle trek vir hulle ’n roukleed aan en gooi grond op hulle hoof. Hulle is nederig voor die Here. Berou is ’n hartsaak. Die Here soek ’n verandering in die hart. Net ware berou bring die gelowige by verlossing uit.
Belydenis van die sonde
Na berou volg belydenis. Ons glo met die hart en ons bely met dit mond. Die Here wil ons woorde hoor. Hy leef in verhouding met ons. Hy wil hoor wat in ons harte gebeur. Dit waaroor die hart seer is moet in woorde geuit word. Die Here wil ons belydenis hoor. Vir die Here moet ons vergifnis vra vir die sondes wat ons doen. Die Israeliete bid ’n lang gebed. ’n Gebed wat vir ons vandag ’n voorbeeld van skulderkenning voor die Here is.
GESPREKSPUNTE
1. Waarom is dit so belangrik om berou oor jou sondes te hê? Hoe ervaar jy dit in jou eie lewe?
2. Hoe gaan jy met skuldbelydenis tydens jou persoonlike gebed om?
Ds. Gerben Meijer
meijer.gp@gmail.com