Skip to content
Menu

Galasiërs 3:1-14   Psalm 119:65-72
DL ¾:5

‘Die onderrig uit u mond is vir my beter as duisende stukke goud en silwer.’

DIE WET VAN DIE HERE

Oor die wet is daar al baie geskryf en gepraat. Elkeen van ons ken dit. Die tien gebooie. Dalk gaan dit deur jou gedagtes: Goed. Dit wet is prakties, ek kan dit elke dag in die praktyk gebruik. Hoe die Here ons daarmee deur die lewe lei. Of, dit is broodnodig. Ons leef in so ’n goddelose wêreld. Dit sal goed wees om die wil van die Here voor oë te kry. Of miskien dink jy, hoekom moet ons nou weer oor die wet praat. Die wet is tog in Jesus Christus vervul, ons leef mos in die era van die liefde. Hoekom moet ons nou hoor oor die wet van die Ou Testament? Belangrik is dat ons reg verstaan, waarvoor die Here sy wet vir ons gegee het. Want die wet van die Here is goed vir elkeen. Die wet werk nie vir ons saligheid nie. Dit doen Jesus Christus. Die wet lei ons op die pad van heiligmaking. Daardeur toon die Here hoe ons, vandag hier op die aarde, sy liefde kan beantwoord.

Die wet is ‘n gawe van God

In die begin het God die mens na sy beeld geskape. Toe het Hy sy wet op die tafels van die harte van die mens geskryf.  So het die mens geweet dat hy God bo alles moet liefhê en sy naaste soos homself. Dit hoef hy nie te geleer het nie. Hy het nie ‘n geskrewe wet nodig gehad om dit te weet nie. Dit het die mens deur die sondeval verloor. Maar deur die genade van die Here gee Hy vir ons hierdie selfde wet. Nou is dieselfde inhoud op kliptafels geskryf.

Die wet gee kennis van sonde

In die Heidelbergse Kategismus word die vraag gevra: Waaruit ken jy jou ellende? Die antwoord – Deur die wet van God. Die wet leer ons dus ons ellende ken. Die wet is ‘n middel wat die Heilige Gees gebruik, sodat jy jou skuld en sonde sal ontdek. Daarom hoor ons die wet elke week. Sodat ons weet waarteen ons die geestelike stryd stry.

Die wet lei ons in dankbaarheid

Van die Here ontvang elkeen van ons in oorvloed. Dit sien ons nou al hier op die aarde. Sy genade is oorvloedig. Bo alles gee Hy vir ons verlossing in Christus. Deur Hom gee Hy vir jou ’n lewe in ewigheid saam met Hom. Daarom lei die wet ons in dankbaarheid. Vanuit onsself kan ons niks goeds doen nie. Maar deur die werk van ons Redder is ons staat om in dankbaarheid die liefde van God te kan beantwoord. Ons kan weer God bo alles liefhê en ons naaste soos onsself.

Ds. Gerben Meijer
meijer.gp@gmail.com