Skip to content
Menu

Lees: Mattheus 5: 1-12 Teksvers: 7 Sing: Ps. 96-1:1,2,5,8; Ps. 61-1:1,6; Sb. 11-3:1,5,6,10; Ps. 84-1:3; Ps. 93-1:1,2,3,4.

‘Gelukkig is die barmhartiges, want hulle sal barmhartigheid ontvang.’

Gelukkig is hulle wat in navolging van Jesus Christus leef

Geluk is iets wat die wêreld waarin ons leef gedurig deur besig hou. Dit is wat die meeste mense, gelowig of ongelowig, in hulle lewe wil hê. As jy gaan kyk na ‘n gewone definisie van gelukkig wees, dan word dit omskryf as tevrede wees met jou huidige lewensomstandighede. Dan het jy geluk.  Dit is blykbaar ons kultuur se verstaan daarvan. Geluk = tevredenheid = die lewe waarvoor jy gewens het. Maar dit is dan ook ‘n geluk wat afhang van omstandighede. Wat daarom eintlik altyd bedreig is. Want wat kan nou nie alles in ‘n oogwink gebeur nie? Jy kan bankrot speel, afgedank of siek word…Daar is genoeg wat kan gebeur. Dit stel ons dan voor die vraag: Kan jy ook gelukkig wees as alles nie gaan soos wat jy wil nie? As jy nie alles het wat jy sou wou hê nie? Is daar geluk wat blywend is? Salig. Gelukkig. Die woord het ons ‘n aantal kere in die Bybelgedeelte vanoggend gehoor. Hierin gee ons Here Jesus Christus vir ons ‘n ander blik op wat ware geluk is. Dit is radikaal anders as wat die wêreld dink. Salig is hulle wat arm van gees is, wat treur. Salig is hulle wat honger en dors het. Hoe werk dit?

Die konteks van die saligsprekinge

Ons lees dat Jesus begin praat het. Hy het sy mond oopgemaak. Kyk hoe maak Jesus reg vir die prediking. Vir die onderwys. Hy gaan sit. Ordelik vergader die dissipels om Hom. Hulle is die eerste hoorders en dan die skare. Die boodskap is ook vir hulle bedoel en vir ons. Dit gaan hier oor elkeen wat die koninkryk van die hemele wil ingaan. Die saligsprekinge bevat in die uitnemendste sin van die woord: die evangelie van die koninkryk. Die nadruk lê nie op beloning nie, maar op bevryding, wat vir hulle in die koninkryk van die hemele opgesluit is.

Die inhoud van die saligsprekinge

Daar is ‘n nou samehang tussen die saligsprekinge. Hulle volg mekaar in ‘n logiese volgorde op. Hierin gee die Here Jesus vir ons die lewenskets van hoe ‘n kind van sy Vader lyk. Hy vul dit baie prakties in. Die dissipelskap word sigbaar in die omgang met ander mense. Daarin toon Hy vir ons die pad van ware saligheid. Die geestelike weg wat ons hier op die aarde mag volg.

GESPREKSPUNTE

1. Hoe hanteer jy dit in jou lewe as dinge anders loop as wat jy beplan het?

2. Hoe sien jy die koninkryk van God in jou daaglikse lewe? Wat beteken dit vir jou dat jy deel is van hierdie ryk waarvan Jesus Christus Koning is?

Ds. Gerben Meijer
meijer.gp@gmail.com