Mattheus 5:20-26 & 38-48
‘Want Ek sê vir julle, as julle geregtigheid nie aansienlik meer is as dié van die skrifkenners en die Fariseërs nie, sal julle beslis nie die koninkryk van die hemele binnegaan nie.
GEREGTIGHEID IN OORVLOED [1]
Dit begin in die hart
Wanneer was jy laas kwaad? Wie was gister of vandag nog kwaad? Het kwaad geword in die kar oppad kerk toe? Ons lewe in ‘n onveilige wêreld. Daar is soveel boosheid, woede, kwaadheid en aggressie rondom ons heen. Jy sien dit as jy na die groot prentjie kyk. Oorlog en terreur. Dit wat nou op die oomblik in Europa gebeur. Die uitbarsting van woede. Die bloedbad wat aangerig word. Jy sien dit ook in die kleiner dinge. In ons onderlinge verhoudings met mekaar. Daar is so gereeld rusies en konflikte. Woede uitbarstings en bitterheid. Boosheid is oraloor.
Ware innerlike goedheid
In die Bergrede vat Jesus boosheid, kwaad word, as die eerste voorbeeld om te verduidelik waaruit die ‘oorvloedige geregtigheid’ bestaan. Jy sal amper kan sê dat die bergrede in vers 3-16 reeds gestel is. Dit word nou aan die hand van ‘n paar voorbeelde toegepas. Jesus het gesê dat Hy gekom het om die wet te vervul. In Hom sien ons die volheid daarvan. Hy gee nie hier vir ons soseer ‘n dieper uitleg van die Tien Gebooie nie. Nee, teenoor die oppervlakkige onderwys van die Skrifgeleerdes, wys hy vir ons die diepgang van die lewe in die koninkryk van die hemele. Hy gee voorbeelde van ware innerlike goedheid, integriteit wat pas by die koninkryk van God. Iets wat net Hy (en niet die wet nie) vir ons kan gee.
Woede en minagting
Jesus leer ons iets oor woede en minagting. Iets waarmee ons as mense so gereeld worstel. Die Skrifgeleerdes en Fariseërs bly oppervlakkig. Net iemand wat iemand doodgemaak het, kry met die gereg te make. Jesus vat dit heelwat verder. Wie in woede tekere gaan, wie hom van binne deur aggressie laat lei, hy kry al te make met dié Regter. Hierdie woede en minagting kom nie ooreen met beeld wees van God nie. Dit is nie hoe ons aan die begin gemaak is nie. Deur woede en minagting raak jy raak ver verwyder van die koninkryk. Verwyder van die lewe in Christus deur sy Gees.
Vergewing en versoening
Om radikaal gerig te wees op versoening is net moontlik deur Christus en sy Gees. In vers 26 staan daar – ‘Jy sal beslis nie daar uitkom voordat jy die laaste kwadrant betaal het nie.’ Die voorbeeld kan ons deurtrek na die werke van Jesus Christus. Ons lot was die ewige dood. Daar moet tot die laaste sent toe betaal word voor ons daar kan uitkom. Dit is presies wat Hy doen. Daarom kyk ons na Hom. Hy wat ons liefdevol aankyk. Hy wat versoening gee vir jou. Hy wat die boosheid, woede en minagting uit jou lewe wegvat. Hy wat dit ook moontlik maak om die pad van liefde saam met ander te stap. Dit is Hy wat in ons ware goedheid bewerk.
Ds. Gerben Meijer
meijer.gp@gmail.com