Genesis 17:1-14
Markus 1:1-8
HK Sondag 27
‘Ek sal my verbond tussen My en jou en jou nageslag ná jou handhaaf, deur hulle geslagte heen, as ‘n ewige verbond, om vir jou ‘n God te wees en vir jou nageslag ná jou.’ – ‘Ek het julle met water gedoop, maar Hy sal julle met die Heilige Gees doop.’
DIE KRAGTIGE WERKING VAN DIE VERBONDSDOOP
Kan ons as kerk die klein kindertjies sommer net doop? Het die doop van ’n klein kind enige sin? Wie van ons kan die dag van jou doop onthou? As klein baba weet jy niks meer daarvan nie. Is dit nie beter om later gedoop te word nie, dan maak jy alles bewus mee? Die kinderdoop is vir die wêreld dwaasheid. Dit pas nie by vandag se wêreld nie. Die wêreld draai om die mens, waar die eie ek sentraal staan. En as die eie ek sentraal staan dan is dit ’n logiese vraag: Hoe kan iemand nou so groot besluit neem vir iemand anders? Om ’n mens te doop. Dit moet elke mens self besluit. Nie eers ouers kan dit vir hulle kinders besluit nie. In die Westerse wêreld moet elke mens self besluit watter geloof jy wil aanneem. Niemand mag dit vir jou besluit nie. Die sakrament van die Heilige doop word deur die wêreld glad nie verstaan nie. Daarom word ons vanaand weer gevoed deur die Woord van die Here. Ons geloof word versterk met die kennis wat die Here vir ons bekend maak, oor sy doop.
Die inhoud van die verbondsbelofte
In die doop staan die beloftes van die Here vas. Die Here belowe vir ons hierin dat ons deel in die verlossing van Jesus Christus. Net soos wat die water die liggaam skoonwas, so word ons gereinig van die sonde deur die bloed van Christus. In die doop word belowe dat die Heilige Gees geloof in ons harte sal bewerk. Ook word daar belowe dat ons ingesluit word in die verbond van God en ingelyf word by die kerk van Christus.
Die dreiging van verbondsgevare
In ons Heidelbergse Kategismus word daar teen twee gevare gewaak. Die eerste is die gevaar uit die Rooms Katolieke kerk. Hulle maak die doop ’n soort toormiddel. Die doop vat die sondes van die mens weg. Hulle beperk die werk van die Heilige Gees en die geloof. Die ander is die wederdopers. Hulle ontken die kinderdoop en sê jy moet weer gedoop word met die geloofsdoop.
Die opdrag van die verbondseis
Die belofte is die bloed van Christus en die werking van die Gees. Die eis is dat ouers hulle kinders moet opvoed in die geloof. Kinders moet die Here leer ken. Hulle moet die ware Godskennis hoor en sodoende belydenis van die geloof doen.
Ds. Gerben Meijer
meijer.gp@gmail.com