Mattheus 5:27-32
Johannes 8:2-11
HK Sondag 41
‘Salig is die wat rein van hart is, want hulle sal God sien.’
GEREGTIGHEID IN OORVLOED [2]
Dit Here eis ‘n suiwer lewenstyl
Julle het gehoor dat gesê is, ‘Jy mag nie egbreuk pleeg nie.’ Word die sewende gebod genoem, dan sit ons in die middel van ‘n klomp gevoelige temas. Met die gebod raak God elkeen persoonlik. Oor hoe jy omgaan met jou eie seksualiteit en met die van ‘n ander. Dit raak hulle wat homoseksueel of lesbies is. Dit raak ons beeld op saamwoon of trou. Hoewel dit ‘n persoonlike en intieme saak is, is dit terselfdertyd baie aktueel in ons samelewing. Die wêreld het sy eie gedagtes hieroor. Op meeste plekke verskil dit radikaal van die wil van die Here. Ons Here Jesus Christus maak in die bergrede ‘n radikale uitspraak hieroor. Dit sluit aan by dit wat Hy in vers 20 gesê het. Die lewe van ‘n kind van die Here word geken aan geregtigheid in oorvloed. Ook as dit by hierdie saak kom.
In die saligsprekinge sê Hy – ‘Salig is die wat rein van hart is: hulle sal God sien.’ Gelukkig is hulle wat op hierdie aarde volgens die Here se wil leef. Daarin sit soveel veiligheid en sekerheid. Die Here roep ons tot sy koninkrykslewenstyl. Geregtigheid in oorvloed begin in die hart, vervolgens word jou liggaamlike bestaan daarvolgens gevorm.
Die wil van die Here
‘Maar Ek sê vir julle, elkeen wat na ‘n vrou kyk en haar begeer, het reeds in sy hart met haar egbreuk gepleeg.’ Hoe werk dit nou? Jesus praat hier van na ‘n vrou kyk. Hiermee maak Hy duidelik – Die eerste en die kleinste stap wat na egbreuk lei, dit is vir Hom soos egbreuk self. In jou hart het jy reeds egbreuk gepleeg. In die Bybel word dit duidelik hoe ‘n kosbare plek die Here die verhouding tussen man en vrou gee. Hy vergelyk die huwelik selfs met die verhouding tussen Christus en die kerk. Juis hierom is Hy so streng daaroor dat dit suiwer en rein moet bly. Die Bybel is vol daarvan. Die verhouding en intimiteit tussen man en vrou word as kosbaarheid beskerm.
Die gebrokenheid van vandag
Wat nou as jy in die opsig gestruikel en geval het? Sê nou jy het op ‘n verkeerde manier na ‘n man of vrou gekyk, of egbreuk gepleeg? Beteken dit dat jy vir ewig verlore is? Ons besef ons leef in ‘n gebroke wêreld. In Johannes 8 sien ons presies dit. Daar is ‘n vrou wat owerspel gepleeg het. Uiteindelik is daar nie een vrome wat ‘n klip kan optel nie. Jesus stuur haar weg met die woorde – Sondig nie meer nie.
Die geluk in Christus
Hierin sit ons geluk. Daar waar ons struikel en val mag ons weet dat daar vergewing is. Dit is nie goedkoop vergewing nie, dit is vergewing deur die kosbare bloed van Jesus Christus. Vir vergewing gaan ons na Hom toe. By Hom is nuwe lewe. Lewe deur die Heilige Gees. God het ‘n doel met ons. Ons mag God sien – ‘Salig is die wat rein van hart is, want hulle sal God sien.’
Ds. Gerben Meijer
meijer.gp@gmail.com