Skip to content
Menu

Openbaring 3:14-22  

‘Ek ken jou dade, dat jy nóg koud, nóg warm is. Was jy nou maar koud of warm!’

VUURWARM KERK VAN JESUS CHRISTUS

Die sewende en laaste brief word geskryf aan die gemeente van Laodicea. Dit is die laaste gemeente wat besoek word deur Jesus Christus. In Laodicea gaan dit nie goed nie. Jesus sê van hulle: ‘Omdat jy lou is en nie koud of warm nie, sal Ek jou uit my mond spuug.’ ’n Skokkende stelling. ’n Kerk wat lou is, is vir die Here walglik. Onverdraagbaar. Dit is ’n kerk sonder Jesus Christus. Hierdie kerk het die kern van kerkwees verloor. Ons hoor selfs dat Jesus voor die deur staan en klop. Hulle het Hom die gasheer, by die deur uitgesit. Hulle vier nagmaal sonder Jesus Christus. Verskriklik. Jesus roep tot lidmate in hierdie gemeente. Hy roep hulle tot bekering. Hierdie brief spreek tot ons vanaand. Ons kan getuig dat Jesus Christus hier is. Ons getuig ons is ’n warm gemeente. ’n Gemeente wat geregeer word deur die Gees en die Woord. Ons koning is ons Here Jesus Christus. Om so kerk te bly, is hierdie brief vir ons ’n aansporing. Dit stook die vuur aan. Lou sal ons nie word nie.

Die kerk in Laodicea

Laodicea was ’n pragtige stad gewees. Dit was in die buurt van Kolosse en Hiërapolis. Dit was ’n ryk stad met pragtige teaters. Die stad was op die voorpunt met moderne modes en ook het hulle op mediese gebied uitgeblink. Die mense van Laodicea – Ryk, selfvoldaan, trots, snobisties. Soos wat die stad was, so is die kerk.

Die probleem in Laodicea

Jesus Christus sê oor hierdie gemeente: ‘Ek ken jou werke, dat jy nie koud is en ook nie warm nie. Was jy tog maar koud of warm! Maar nou, omdat jy lou is en nie koud of warm nie, sal Ek jou uit my mond spoeg!’. Laodicea het ’n groot probleem. Hulle is nie meer warm vir die evangelie nie.

Die oplossing vir Laodicea

Laodicea word opgeroep om te bekeer. Die Here sê vir die gemeente in vers 19 – ‘Almal wat Ek liefhet, bestraf en tugtig Ek. Wees dan ywerig en bekeer jou.’ Julle wat lou is, word warm. Moenie verdwaal raak deur al die afleidings in die wêreld nie. Bly in die evangelie. Volhard in die geloof. Bly warm!

Ds. Gerben Meijer
meijer.gp@gmail.com