Skriflesing: Johannes 14:15-21 & Efesiërs 3:14-21 Belydenis: HK Sondag 29 Teks: Johannes 14:20 Sing: Ps. 103-1:1,2,3; Ps. 23-1:1,3; Ps. 81-1:1,11,12; Sb. 1-2:1,2,3
‘Op daardie dag sal julle weet: Ek is in my Vader, en julle in My en Ek in julle.’
HY IN MY EN EK IN HOM
Die afgelope tyd het ek die volgende opmerking van iemand gehoor: ‘Baie mense weet nie waaroor die Nagmaal gaan nie.’ Dit is baie belangrik dat hulle dit vier, hoe hulle dit vier, maar die wese waaroor dit gaan, die kennis oor die Nagmaal ontbreek. Daarom bring dit ons vanaand by ‘n aantal vrae: Waaroor gaan dit nou presies in die Nagmaal? Die antwoord op die vraag moet ons ons eie maak. En ek wil die antwoord graag soos volg saamvat: Waaroor gaan die Nagmaal? Dat ons deel kry aan Christus en al sy skatte! Daaroor gaan dit. Dit gaan oor Hom. Oor Christus as die geheimenis van God. Oor die onnaspeurlike rykdom van Jesus Christus. Daaroor gaan dit in vanaand se Woordverkondiging. Ons fokus op ons belydenis in Sondag 29 en uit die Woord van die Here op Johannes 14 en Efesiërs 3. Aan die hand hiervan kyk ons hoe sigbaar, tasbaar en ervaarbaar die Here vir ons sy sakrament gee.
Jesus Christus vir ons
Die rykdom wat ons in Jesus Christus het. Dit is die inhoud van Paulus se prediking. Hy sê dit is onpeilbaar. Die volheid hiervan sal ons nooit omvat nie. Jy sal deurlopend meer oor Christus ontdek. Dit sal altyd moontlik wees om in die geloof te groei. Hy gaan alles te bowe. Sy liefde is sonder grense. In die ewigheid van God, is ons as mense baie klein. Christus daarteenoor, bestaan van ewigheid tot ewigheid. En Hy is al vir eeue besig met ons. Op Golgota bereik die wêreldgeskiedenis sy klimaks. Daar tree Christus vir ons in. Die rykdom wat ons van Hom ontvang is werklik onpeilbaar.
Jesus Christus in ons
Verwonderd staan ons voor die onpeilbare werk van die Here. Die gekruisigde leef! Die lewende Christus wil in ons woon. Hy wil met ons gemeenskap hê. Hy verbind Homself aan ons. In Efesiërs 3:17 staan daar: ‘om Christus deur die geloof in julle harte te laat woon. Dit staan in verband met vers 16 – ‘om deur sy Gees met krag na die innerlike mens versterk te word. In Johannes 14:20 sê Jesus: ‘Ek is in my Vader, en julle in My en Ek in julle. Christus vir ons word Christus in ons. Christus wil in ons woon.
Jesus Christus deur ons ‘…aan Hom wat deur sy krag wat in ons werk in staat Is om oneindig meer te doen as alles wat ons bid of dink…’ (vers 20) As ons deel is van Christus, moet daar nie iets gebeur nie – as Christus in ons is, sal daar iets gebeur. As Christus in jou is, verander jou lewe. Hy verander jou gedagtes, jou gevoel en jou doen en late. Deur die werking van die Heilige Gees. is dit die diepste werklikheid in jou lewe. Jy mag deel in die onpeilbare rykdom van Jesus Christus. Daar Is niks groter as dit nie.
Ds. Gerben Meijer
meijer.gp@gmail.com