Skriflesing: Mattheus 5:33-37 & 2 Korinthiërs 1:12-24 Teksvers: 33 Sing: Ps. 122-1:1,2; Ps. 139-1:1,12; Ps. 50-1:7,9,11; Sb. 14-3:1,3; Ps. 150-1:1,2,3.
‘Laat die woord ‘ja’ by julle werklik ‘ja’ wees, en julle ‘nee’ ‘nee’. Meer as dit is uit die bose.’
Reeks: GEREGTIGHEID IN OORVLOED [3]
‘n Christen staan onder eed
‘Beloof jy om die volle waarheid en niks anders as die waarheid te praat nie?’ ‘So help my God.’ Dit is ‘n eed. Dit kom nie van nêrens af nie. In die Bybel hoor ons ook heelwat hieroor. Onder andere praat Jesus hiervan in die Bergrede. In die tyd het mense af en toe ‘n eed gesweer. Maar om nie die Naam van die Here te misbruik nie, het hulle by die hemel, die aarde, of by hulle eie koppe gesweer. Die voordeel was dat so ‘n eed minder belangrik is as ‘n eed wat voor God gemaak is. So het hulle gedink. Hierdie skynheiligheid spreek Jesus eerste aan. Maar daarna sê Hy: Vir ‘n kind van die Here is ‘n eed nie nodig nie. As jy God ken, dan weet jy dat jy altyd en oral voor sy aangesig leef. Wat jy ‘n ander belowe, dit hoor die Here ook. Na die storie wat jy vertel, luister God ook. ‘n Christen staan en praat altyd voor God se aangesig. As christen staan jy onder eed.
Jou lewe
In Hebreërs 4:13 staan daar – ‘Ja, niks wat geskape is, is vir Hom verborge nie, maar alles is oop en bloot voor sy oë, Hom teenoor wie ons ons moet verantwoord.’ Die Here is orals aanwesig en Hy weet wat gebeur. God ken elke stukkie van jou hart, die kom en gaan van jou emosies, die draaie van jou gedagtes. ‘n Belangrike besef. Jy bevind jou altyd en oral in God se wêreld. As kind van Hom plaas Hy jou in hierdie wêreld. Hy gee ‘n konkrete opdrag – Laat jou ja, ja en jou nee, nee wees. Jou doen en late moenie vloek met God se Naam wat jy dra, bely en aanroep nie.
Jou beloftes
Wat jy belowe het moet jy doen. Ons leer dit ons kinders van kleins af. Op belangrike oomblikke in die kerk word daar ook gevra na ‘n belofte. ‘n Belofte voor God en sy heilige gemeente. Dit gebeur met openbare geloofsbelydenis, met die bevestiging van jou huwelik, by die aanvaarding van amptelike verantwoordelikhede, by die bediening van die doop van ‘n kind. Dan hoor ons elke keer ‘n belangrike ja. Die Here eis dat ons hierdie beloftes nakom.
Jou vertroue
Ek leef as Christen onder eed. Ek dra die Naam van die Here. Hy sien my oral en Hy deurgrond my in my geheel. Sy oë is op my gerig. Hy is getuie van my lewe. My lewe mag nie bots met die Naam van die Here nie. Nie voor Hom nie, ook nie voor die wêreld nie. Weereens besef ons hoe moeilik dit is om hierdie gebod na te kom. Die enigste hoe ons hiervolgens kan leef is deur Christus. Deur vertroue op Hom. Hy roep ons op om volmaak te wees. Ons word nie volmaak deur ons eie harde werk nie. Ons word volmaak deur Hom. Vanuit Hom kan ons in dankbaarheid so voor God leef.
Ds. Gerben Meijer
meijer.gp@gmail.com