Skriflesing: Eksodus 4:18-31 (1933/53-vertaling)
Preekteks: Eksodus 4:24-26
Tema: Die nag toe die Here vir Moses wou doodmaak.
Soms lees ons in die Bybel gedeeltes wat ons nie verstaan nie. Gedeeltes wat nie vir ons sin maak nie. Gedeeltes wat ons skok en waaroor ons wonder. Gedeeltes wat vir ons voel of daar ‘n ouderdomsbeperking gestel moet word om kinders te beskerm. Gedeeltes wat ons dalk sal voel nie in die Bybel pas nie.
Dan wonder ons dikwels waarom hierdie gedeeltes vir ons opgeteken is. Is dit werklik nodig dat ons van hierdie verskriklike dinge moet lees? Is dit nodig dat ons kinders aan hierdie dinge blootgestel word? Vanoggend lees ons een so ‘n gedeelte vanuit Eksodus 4. Ons lees dat die Here vir Moses een aand wou doodmaak. Wat ‘n skokkende gedagte?
Ons moet onthou dat ons deur elke vers van die Bybel iets van die Here leer ken, en hierdie gebeure is geen uitsondering nie. Met hierdie gebeure wil die Here aan Moses, en aan ons sekere dinge leer:
- Die belangrikheid van gehoorsaamheid.
- God moet bo alles gevrees word.
- Die krag van bloed.