Skip to content
Menu

Jakobus 2:14-26
Romeine 6:8-14  
HK Sondag 32

‘Die sonde mag beslis nie oor julle heers nie; julle is immers nie onder die wet nie, maar onder die genade.’

VERLOSSING VERANDER JOU LEWE

Met woorde kan jy baie doen. Die impak van woorde is groot. Jy kan mense se gedagtes daarmee vorm. Baie mense laat hulle ook graag deur woorde lei. Deur pragtige beloftes, mooi geformuleerde argumente en aantreklike voorleggings. Veral die politieke wêreld is bekend hiervoor. Gereeld is dit leë woorde. Mense sien daardeur en die gevolg is dan – ons wil eers dade sien, voordat ons die woorde glo. In die praktyk sal ons sien of die teorie waarde het. In die kerk hoor ons heelwat woorde, maar kom dit hier ooreen met die dade? Kom die teorie en die praktyk ooreen? Is daar ooreenstemming tussen leer en lewe? Hoe werk die verlossing in jou daaglikse verantwoordelikhede deur? Belangrike vrae! Is die christelike geloof ‘n lewensbeskouing? Of is dit ook ‘n lewensstyl? Wat beteken die verlossing van Christus vir jou dade? In Sondag 32 sien ons die verskuiwing. In die vorige gedeeltes is die ellende en verlossing behandel. Nou begin die derde hoofstuk oor ons dankbaarheid. Nou word ons lewe hier op die aarde aangeraak. In die woorde van ons belydenis: ons goeie werke.

Die Gees werk verder

Wie tot geloof in die Here Jesus Christus gekom het, ontvang die Heilige Gees. As ‘n weergebore kind van God woon en werk sy Heilige Gees in jou. Hy werk in jou sodat jou manier van dink en doen verander. Soos wat daar in Romeine 6:14 staan – ‘Die sonde mag beslis nie oor julle heers nie; julle is immers nie onder die wet nie, maar onder die genade.’ Geloof is dink en doen. Jakobus sê hier, ‘n Geloof sonder werke is ‘n dooie geloof. Kan ‘n geloof sonder werke iemand red? Dit is die vraag wat Jakobus stel. Wat is die verhouding tussen geloof en werke? Die Here leer ons tog nadruklik dat ons slegs deur geloof in ons Here Jesus Christus salig sal word. Hoekom moet daar dan nou nog werke gedoen word. Vanuit ‘n ware geloof vloei werke voort soos vrugte aan ‘n boom. Die twee is onlosmaaklik aan mekaar verbonde. As jou liggaam ‘n tempel van die Heilige Gees is, dan werk Hy verder in jou lewe.

Die Gees skakel jou heeltemal in

Geloof is nie net iets wat jy voel en dink nie, geloof is iets wat jy doen. Jou geloof kry in die praktyk vorm. So sien ons hoe die Heilige Gees in ons werk. Hy bevestig die ware geloof deur ware geloofswerke. In die Bybel is daar heelwat voorbeelde waar die geloof deur die werke bevestig word. Jakobus verwys na Abraham en Ragab. Hoe leef ek my geloof uit? Hier in die kerk, in die samelewing, daar waar ek elke dag besig is? ‘n Ware geloof leef in die praktyk.

Ds. Gerben Meijer
meijer.gp@gmail.com