Skip to content
Menu

Lees: Eksodus 21:1-6 & 20-36         Teksvers: 32      Sing: Ps. 42-1:1,5,7; Ps. 105-1:20,23; Ps. 81-1:6,11,12; Ps. 48-1:1,4,5.

‘As dit ‘n slaaf of slavin is wat deur die bees gedood is, moet daar dertig sikkel silwer vir hulle eienaar gegee word, en die bees moet gestenig word.’

DIENSKNEGTE VAN JESUS CHRISTUS

Een van die grootste dinge wat ‘n mens kan hê – is vryheid. Vryheid is een van die belangrikste dinge vir die mens. Hy sal alles daarvoor doen. Hy sal daarvoor veg. Mense het al en sal weer al hulle goed en selfs hulle bloed daarvoor gee. Maar wat is ware vryheid nou eintlik? Ware vryheid is ‘n vryheid in gebondenheid aan God. Dit is ware vryheid. Die opstandige sondige mens dink in sy dwaasheid dat hy sonder God vry sal wees. Vanaf die sondeval het hierdie gedagte by mense posgevat. In die dae van die Franse Rewolusie was dit een van die krete: Geen God en geen meester! Daar het die mens opgestaan en ten volle in homself geroem. So het hulle gedink is hulle vry. Weg met God se wette en verordeninge, die mens kan doen wat hy wil – vryheid. Ook christen gelowiges word deur hierdie gedagtes geraak. Ons leef in hierdie wêreld waar die duiwel hard slaan. Dit slaan deur in die kerke. Die Here se verordeninge word op die sylyn geskuif. Die mens se wil word op die voorgrond geskuif en geregverdig. Daarin word vryheid gevind. Die punt word gemis. Dit is sekerlik een van die grootse misverstande wat regoor die wêreld heers. Oor wat ware vryheid is. Ook is dit verseker die grootste teleurstelling vir die mens wat sonder God sterf. Want hy het die vryheid nie gehad nie. Vryheid is gebondenheid aan die Here. Vryheid vind ons in ons dienswerk aan God. Ware vryheid is om dienskneg van die Here te wees. Hierop plaas die Here ons fokus aan die hand van Eksodus 21 vandag.

Die inhoud van die wet

Deur verordeninge sorg die Here vir die daaglikse lewe van die Israeliete. God is ‘n God van orde en volgens die orde sal sy volk op die aarde leef. In die hoofstuk wat ons gelees het, gaan dit oor slawerny. Opvallend is dat die slaaf in Israel as mens raakgesien en erken is. God is die Beskermer van alle lewe.

Die heenwysing van die wet

In die wet is die skaduwee van Christus verborge. Alles wys na hom toe. Ook hierdie wette wat handel oor slawerny. Deur die sonde het elke mens op die aarde ‘n slaaf van die sonde geword. Daardeur erken die mens die Here nie meer as Heer nie. Hoe sal ‘n slaaf van die sonde weer ‘n dienaar van die Here word? Dit kan net deur die groot Dienskneg Jesus Christus gebeur.

Die Vryheid in die wet

Vandag is ons vry. Ons bely dit so kragtig in die Heidelbergse Kategismus – Met liggaam en siel behoort ek nie aan myself nie, maar aan my getroue Verlosser Jesus Christus. Hy is my Here, My eienaar. Dit is ware vryheid. Deur die offerdood van Jesus Christus is die uitverkore kinders van die Here nie meer slawe van die sonde nie, maar diensknegte in die huishouding van die Allerhoogste. Ware vryheid is gebondenheid aan die Here.

Ds. Gerben Meijer
meijer.gp@gmail.com