Lees: Mattheus 7:13-23 & Psalm 1 Teksverse: Mattheus 7:13,14 Sing: Ps. 146-1:1,3,6,8; Sb. 12-3:1,2; Sb. 9-5:1,4,5; Ps. 1-1:1,4; Ps. 16-1:1,5; Ps. 113-1:1,2,3.
‘Gaan deur die nou poort in. Want breed is die pad en wyd die poort wat na die verderf lei, en daar is baie wat daardeur binnegaan. Maar hoe nou is die poort en hoe smal die pad wat na die lewe lei! En daar is min wat dit vind.’
DIE PAD NA GOD SE KONINKRYK
As ons so lees van twee paaie, uit Matteus 7 en Psalm 1, dan lyk dit nogal swart-wit. Jy het regverdiges en wetteloses. Dit is of reg of verkeerd. Dit stel jy so konkreet voor die vraag: Waar staan jy? Hoe kyk jy na ander mense? Hoe leef jy hier op die aarde? Meestal bo die gedeelte in die Bergrede staan daar: Die twee paaie. Dit bevestig bogenoemde gedagte. In die nuwe vertaling lees ons: Oor die regte keuse. Die saak kom ook in hierdie gedeeltes na vore. Dit gaan nie nou hier oor wie jy is nie. Maar: Waardeur laat jy jou beïnvloed? Waarmee maak jy jou gedagtes vol? Met watter woorde, tekste, beelde en geluide hou jy jouself mee besig?
‘n Dringende bevel
‘Gaan deur die nou poort in.’ Ons kom nou by die laaste gedeelte van die Bergrede. Die laaste punte van die preek. Sy Bergrede sluit Jesus op ‘n ernstige manier af. Aan die einde hoor ons nou hierdie dringende bevel: Gaan deur die nou poort in. Dringend gee Jesus hierdie opdrag vir die mense daar. Daar sit ‘n skare voor Hom. Mense van allerlei oorde en leeftye. Hulle ontvang almal dieselfde boodskap. Baie van hulle was nog nie bekeerd nie. Jesus weet wat in hulle harte aangaan. Hy weet ook dat daar onder hulle mense is wat hulle teen Hom gaan verhard. Vandaar hierdie dringende bevel. Dit is noodsaaklik. Vanuit die innerlike beweging van sy hart sê Hy vir hulle: Gaan deur die nou poort in. Vanweë die gevare van die breë poort en die wye pad, roep Jesus sy luisteraars op om deur die nou poort in te gaan en op die smal pad te wandel. Dit is nie die mees voor die handliggende pad nie; min mense doen die moeite om daarop te gaan.
‘n Ernstige waarskuwing
‘Want breed is die pad en wyd die poort wat na die verderf lei, en daar is baie wat daardeur binnegaan.’ In vers 15 waarsku Jesus die skare teen die valse profete. Dit is hulle wat in skaapsklere in die kerk voorgaan. Dit is voorgangers – predikante, ouderlinge en diakens – waarvan die buitekant christelik is, maar wat van binne roofsugtige wolwe is. Hulle is gevaarlik vir die kudde. Jesus sê van hulle: jy kan hulle aan hulle vrugte herken. Nie soseer aan die vrugte van hulle eie lewens nie, maar eerder aan die vrugte wat hulle verkondiging uitwerk in die lewens van ander. Hulle praat miskien baie mooi en openlik oor die toekomstige hemelryk, maar hulle wys die kerklidmate nie op die smal pad waarop hulle in gehoorsaamheid moet gaan nie. Hulle trek nie die duidelike lyne van die gebooie van Christus nie, hulle is uitermate ruim in hulle opvattings oor die gehoorsaamheid aan Christus. So hoor ons hier ‘n ernstige waarskuwing. Wees op julle hoede. Om op die breë pad te stap is maklik, maar dit lewer niks op nie.
Goeie raad
‘Gelukkig is die mens wat nie die raad van goddeloses volg, nie op die pad van sondaars gaan staan en nie in die byeenkoms van spotters sit nie, maar wat vreugde vind in die wet van die Here en sy wet dag en nag mymerend prewel.’ Dit is die wyse raad wat ons van die Here ontvang.
Ds. Gerben Meijer
meijer.gp@gmail.com