Skip to content
Menu

Kan ‘n mens eerlik sê, wanneer dit baie sleg gaan, dat niks jou ontbreek nie?

Inleiding: Kan ‘n mens eerlik sê, wanneer dit baie, baie sleg met jou gaan, dat niks jou ontbreek nie? Uit baie Psalms (bv. Psalm 23) behoort ons te kan sê: “Ja, gelowiges behoort altyd te kan sê dat hulle beker oorloop van vreugde.” Ons wil graag uit Psalm 73 vir u aantoon hoe dit moontlik is dat gelowiges dit eerlik kan sê.

Wat nie in slegte tye help nie:

  • Ignorering van feite. ‘n Mens moenie probeer om vir jouself te jok nie. As dit sleg gaan met jou, gaan dit sleg.  In Psalm 73 word ons geleer om juis nie die feite aangaande ons omstandighede te ignoreer nie (vgl. v. 3-14).
  • Optelsomme. Toe die digter optelsomme gemaak het, het hy amper in die geloof gegly (vgl. 3-14). Sy situasie het sleg vergelyk met die goddelose mense! Optelsomme bring jou nie by vrede uit nie!
  • Met die verstand dinge probeer uitpluis. Die digter erken ook dat toe hy diep nagedink het, kon hy nie ‘n oplossing vind nie (v. 16).

Wat werklik help in slegte tye:

God se geslag. In die worsteling van die digter, is dit sy verantwoordelikheid teenoor medegelowiges wat hom laat skrik het vir sy eie gedagtes en bitterheid. Medegelowiges het nie sy worsteling weggeneem nie, maar dit het gehelp dat hy begin besef het dat hy op die verkeerde pad is met sy oordenkinge.

Wat verander moet word:

Die hart. Die digter maak reg aan die begin van die Psalm (v. 1) duidelik wanneer mense sal begryp dat hulle niks kort kom nie.  Dit is wanneer hulle “rein van hart” is. Dit is wanneer hulle in hul diepste innerlike rein is. Dit is uit hierdie reinheid dat die digter met sy bitterheid amper uitgeval het (vgl. v. 2).

Hoe die hart verander:

In te gaan in die heiligdom.   Die draaipunt in die digter se worsteling kom wanneer hy ingaan in die heiligdom (v. 17)  Hy sê nie wat hy met “heiligdom” bedoel nie.  Dit is egter duidelik dat hy tot by God, die heilige God, die genadige en die liefdevolle God gekom het. My hart verander wanneer ek op grond van my Here se offer en gedring deur die Heilige Gees tot by God kom – wanneer ek my kan losmaak van die malende gedagtes en vrae wat onbeantwoord is en met groot verwondering iets van God se heiligheid, sy genade en sy liefde in sy Seun begryp. Let daarop: om in te gaan in die heiligdom gebeur nie terloops nie. Dit vereis geloofsinspanning, tyd en toewyding.

Die hart verander vanaf:

  • arrogante aanklaer tot aangeklaagde (vgl. v. 14 en 22);
  • vanaf verwerpte tot versorgde (vgl. v13 en 23-24);
  • vanaf jaloerse tot jammerhartige (3-13 en 17-20) en
  • vanaf dikmond-mens en toemond-mens tot verkondiger (15 en 28).