Lukas 11:5-13; Lukas 15:11-32; HK Sondag 46
‘As julle wat sleg is, dan weet om goeie geskenke aan julle kinders te gee, hoeveel te meer sal die hemelse Vader die Heilige Gees gee aan hulle wat Hom vra!’\
ONSE VADER WAT IN DIE HEMELE IS
Jesus leer ons om te bid: Onse Vader wat in die hemele is. Hy leer ons om so aan te klop by die almagtige God. Maak God die deur oop? Luister Hy na hulle wat as ware voor sy deur staan? Gaan Hy vir hulle gee wat hulle vra? Niemand kan vir ons daaroor beter uitsluitsel gee as sy eie Seun nie. Hy wat sy volgers die opdrag gee om God aan te spreek as Vader. Hierdie benaming is van onskatbare waarde. Wie Hom so aanroep, word nog beter aangehoor, as wanneer kinders hulle aardse vaders aanroep.
God ons Vader
Hoekom leer Jesus ons om God aan te roep as Vader? Omdat die Here Hom so aan ons openbaar. God wil ons Vader wees. Hy toon aan dat ons Hom met hierdie intieme Naam mag aanspreek. Hoe stel Jesus God as Vader voor? As iemand wat styf en op afstand is? In die praktyk van ons lewens is dit baie keer die geval. Ons leer wie God die Vader is in die gelykenis van die verlore Seun in Lukas 15. Hy het gesag oor beide seuns, maar het hulle terselfdertyd van harte lief. In die Kategismus word daar ook pragtige dinge oor God as ons Vader gesê. Gelowiges mag Hom so aanroep. Na Hom toe kom. Hulle hoef nie te wag vir hulp nie, hulle mag Hom altyd aanroep. Hy is bereikbaar. Met vrymoedigheid mag ons by Hom aanklop. Sy deur is vir ons altyd oop.
Deur Christus
Christus self het gesorg dat God ons Vader geword het. Dit was sy groot doel hier op die aarde. Die feit dat ons God kan aanroep as ons Vader, dit is die produk van Christus se versoeningswerk. Die feit dat die jong seun kan sê: ‘Vader, ek het gesondig teen die hemel en in u oë. Ek is nie meer werd om u seun genoem te word nie.’ Dit is net moontlik deur Christus. Verlore seuns en dogters kan by hulle Vader aanklop. Die breuk met God is herstel. Daarom bid ons altyd in die Naam van Christus.
Wat in die hemele is
God is in die hemele. Aangrypend ook dat hier weer die meervoud gebruik word. Dat Hy in die hemele is, beteken nie dat Hy afstand wil hou nie. Hy is ons Vader wat in ‘n intieme verhouding met ons leef. Maar Hy is ook die almagtige God. Dit word reeds in die begin van die gebed met ‘in die hemele’ beklemtoon. Christus leer ons dat ons oor die hemelse majesteit van God nie aards moet dink nie. Juis vanweë sy grootheid mag ons in ons gebede alles van Hom verwag.
____________________________________________________________________________________________________________________________________________________________________________________________________________________________________________________________
Ds. Gerben Meijer
meijer.gp@gmail.com